Kinder nou in VSA ook van rakke verwyder

Kinder Surprise-sjokolade-eier (Foto: VSA Doeane- en grensbeheerbeskerming via Wikimedia Commons)

Die Italiaanse lekkergoedgroep Ferrero het Vrydag gesê hy onttrek ook nou twee soorte van sy Kinder-sjokolade aan die kleinhandelmark aan die VSA nadat dit aan die lig gekom het dat hierdie lekkernye  ʼn moontlike verband met talle salmonella-gevalle het.

Die Kinder-sjokolade-eiers is reeds Dinsdag aan verskeie Europese lande onttrek.

Die betrokke produkte kom van Ferrero se aanleg in Arlon, België, en is te koop aangebied in België, Brittanje, Frankryk, Duitsland en Swede.

Hoewel daar nie bewyse is dat enige van die speelgoed-gevulde Surprise-sjokolade-eiers of enige ander produk salmonella bevat nie, het Ferrero gesê hy onttrek eerder die produkte as ʼn voorsorgmaatreël.

Tot dusver is daar geen bevestigde samonella-gevalle in die VSA nie en geen ander Kinder- of Ferrero-produkte word deur hierdie onttrekking geraak nie.

Volgens Ferrero werk die groep nou saam met die kleinhandelaars om te verseker dat die produkte nie meer in die handel beskikbaar is nie.

“Ons neem voedselveiligheid uiters ernstig op en elke stap wat ons gedoen het, strook met ons verbintenis tot verbruikersorg,” het die groep gesê.

Salmonella is ʼn tipe bakterie wat simptome veroorsaak soos diarree, koors en maagkrampe by volwassenes en kinders. Dit is een van die algemeenste infeksies wat deur kos versprei word.

ʼn Beampte het Dinsdag gesê die salmonella-gevalle in Brittanje het tot 63 toegeneem. Altesaam 21 gevalle is onlangs in Frankryk aangemeld en 15 het glo van die Kinder-produkte geëet wat nou onttrek is, aldus die Franse openbare gesondheidsdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

miche ·

Ek koop dit lankal nie meer nie, juis omdat ‘n paar daarvan nie behoorlik geseël was nie. Dit Kon moontlik ook gedurende die hanterings-proses (na die onderskeie winkels) beskadig geword het.
Ons moet leer om behoorlik te kyk voor ons iets eet( veral in restaurante).
Jy sal verbaas wees wat jy daarin vind as jy eers behoorlik begin kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.