Kinder vir ‘bedrog’ ondersoek

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kinder US/Twitter)

Frankryk se aanklaerskantoor in Parys het ʼn voorlopige ondersoek na die tientalle gevalle van salmonella in Europa van stapel gestuur, wat vermoedelik deur die Italiaanse lekkergoedgroep Ferrero se Kinder-sjokolade veroorsaak is.

Ferrero se aanleg in Arlon, België, is reeds in April gesluit nadat dié land se voedselveiligheidsowerheid bevind het dat die inligting wat Ferrero aan hom oorhandig het oor sy beweerde betrokkenheid by die siektegevalle “onvolledig” was.

Franse owerhede ondersoek nou Ferrero se vermoedelike betrokkenheid by “bedrog wat vererger is deur mense se gesondheid in gevaar te stel”. Die lekkergoedgroep word ook vir die roekelose bedreiging van menselewens ondersoek.

Talle mense, onder wie jong kinders, het kort voor Paasfees salmonella opgedoen wat moontlik deur van die gesogte Kinder-produkte veroorsaak is.

Hoewel die groep vroeër aangevoer het dat daar nie bewyse is dat enige van die speelgoedgevulde Surprise-sjokolade-eiers of enige ander produk salmonella bevat nie, het hy later erken dat daar wel ʼn kontaminasie by sy fabriek was.

Nicolas Neykov, hoof van Ferrero Frankryk, het verlede maand gesê dat “ʼn filter in ʼn vat vir botter” by die fabriek in Arlon gekontamineer is. Hierdie kontaminasie kon deur mense of grondstowwe veroorsaak word.

Die fabriek is later vir ʼn higiëne-inspeksie gesluit en meer as 3 000 ton Kinder-produkte is eindelik aan die mark onttrek.

Die Europese Sentrum vir Siektevoorkoming en -beheer het tot op hede altesame 324 bevestigde salmonellagevalle en 58 vermeende salmonellagevalle oor die hele Europese Unie (UN) en Brittanje aangemeld.

Geen sterftes is weens die besmette produkte aangemeld nie, maar tog moes talle slagoffers in die hospitaal opgeneem word weens die erns van die simptome.

Belgiese owerhede het reeds ʼn ondersoek begin om te bepaal wie moontlik verantwoordelik kan wees vir die kontaminasie by die fabriek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.