Kinders sterf toe bus deur kleuterskool ploeg

(Foto: Anne-Sophie/THILL/AFP)

Minstens twee kinders is dood en talle beseer nadat ’n bus Woensdag in ’n kleuterskool in Laval in Kanada vasgery het.

Die ongeluk het omstreeks 08:30, plaaslike tyd, plaasgevind. Gevolglik het talle kinders onder die bus beland. ’n Deel van die gebou se dak het ook op die voorkant van die voertuig ineengestort.

Volgens die Kanadese polisie kan die oorsaak van die ongeluk nie in die stadium bevestig word nie.

“Twee kinders is in die botsing dood en ses ander is na die naaste hospitaal vervoer,” sê Erika Landry, woordvoerder van die Laval-polisie.

Geraakte ouers en ooggetuies beweer dat die bestuurder waarskynlik doelbewus opgetree het. Die bus het glo aan die kant van die kleuterskool vasgery wat nie aan  ʼn pad geleë is nie, maar langs ’n parkeerterrein.

“Ek het gehelp om die bestuurder wat uit die bus geklim het, in bedwang te hou,” het een pa huilend aan Radio Kanada gesê. Sy vrou vertel die man was “half naak” en albei het gesien hoe die bestuurder doelbewus in die kleuterskool inploeg.

Justin Trudeau, eerste minister, het sy medelye met die kleuterskool en families uitgespreek.

“Ek is verpletter, ons almal is. Ek kan my nie indink waardeur hierdie families moet gaan nie, maar as daar iets is wat die federale regering kan doen, sal dit gedoen word,” sê hy.

Nog ʼn ouer het aan AFP vertel die bus het in die kleuterskool vasgery waar die oudste groep kinders se klasse is.

Francois Legault, premier van Quebec, het ook sy medelye met die gesinne oorgedra.

“Wat ’n verskriklike tragedie in Laval vanoggend, daar is niks erger as om te vrees vir jou kind se lewe nie,” twiet hy. “Ek dink aan al die kinders, ouers en werknemers. Ek is ʼn pa en is self hierdeur geruk. Ek kan die angs verstaan waardeur die ouers gaan.”

Stephane Boyer, burgemeester van Laval, skryf ook in ʼn twiet dat hy “geskok” is oor die nuus. “Al my ondersteuning gaan aan die kinders en ouers in hierdie moeilike tyd, Laval is heelhartig met julle.”

Die bestuurder, ’n 51-jarige man, is in hegtenis geneem op aanklagte van moord en roekelose bestuur. Die polisieondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Hoe gebeur dit dan nou in die wonderlike hoogheilige Kanada wat homself daarop roem om so vredeliewend, demokraties en vol “human rights” te wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.