Kinders sterf tydens brand by skoolkoshuis

Ondersoekbeamptes stel ondersoek in op die toneel waar ʼn brand in ʼn skoolkoshuis uitgebreek het (22 Mei 2023) (Foto: Keno George/AFP)

Minstens 19 kinders is dood toe ʼn brand Sondagaand in ʼn skoolkoshuis in Guyana, ʼn klein landjie in die noorde van Suid-Amerika, uitgebreek het. Die land se president het die tragedie as ʼn “yslike ramp” beskryf.

“Dit is ʼn yslike ramp. Dit is verskriklik. Dit is pynlik,” het pres. Irfaan Ali Sondagaand gesê.

Volgens ʼn verklaring deur die regering is verskeie mense ook beseer in die brand by die Mahdia- sekondêre skool in sentraal-Guyana.

Die brandweer het in ʼn verklaring gesê veertien kinders is op die toneel dood en vyf het by die Mahdia-distrikshospitaal gesterf. Die regering het vroeër aangedui minstens 20 persone is oorlede.

“Ons het lieflike mense in dié brand verloor. Ons vra dat almal steeds sal bly bid vir die kinders, hul families en gemeenskappe.”

Ali het gesê reëlings is getref met die hoofstad Georgetown se twee groot hospitale “sodat elke enkele kind wat aandag nodig het, die beste geleentheid sal kry om dié behandeling te ontvang”.

Privaat en militêre vliegtuie is na Mahdia, sowat 200 km suid van Georgetown, ontplooi, aangesien die streek deur swaar reën getref is.

“Vyf vliegtuie is reeds na Mahdia ontplooi om die streeksgesondheidsbeamptes by te staan met bykomende mediese voorraad en om pasiënte te vervoer,” lui die verklaring deur die regering.

Tien kinders is reeds per vliegtuig na Georgetown vervoer.

Natasha Singh-Lewis, ʼn LP vir die opposisie, het versoek dat ʼn ondersoek na die oorsaak van die brand van stapel gestuur word.

“Ons moet verstaan hoe só verskriklike en dodelike voorval gebeur het en alle nodige stappe doen om seker te maak só iets gebeur nie weer nie,” het sy gesê.

Guyana is ʼn klein Engelssprekende land van sowat 800 000 mense. Dit is ʼn voormalige Nederlandse en Britse kolonie wat onlangs ontdek het dit beskik oor die wêreld se grootste per capita oliereserwes. Dit is een van die armste lande in Suid-Amerika en hoop dat dié ontdekking tot vinnige ontwikkeling sal lei. Die land het die tweede hoogste persentasie woudbedekking ter wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Goldy ·

Tragies, hopelik bou alle koshuise maniere in om rampe soos hierdie te verhoed. Die een ondersoeker in die foto wie se gesig mens kan sien se emosie lyk onvanpas.

Republikein in die Wes Kaap ·

Klein landjie met 800 000 mense. Ek raak skoon jaloers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.