Kitskoswerkers in selle ná polisie gratis kos eis

Die Johnny & Jugnu-kettingrestaurant in Lahore. (Foto: Johnny & Jugnu/Facebook)

ʼn Groep polisiebeamptes het verlede week 19 werkers van ʼn kitskosrestaurant in Pakistan in hegtenis geneem nadat hulle glo geweier het om gratis burgers aan die beamptes te verskaf.

Die betrokke beamptes het Saterdag die werkers van die Johnny & Jugnu-kettingrestaurant in Lahore vir ure oornag by ʼn polisiestasie aangehou. Beamptes was glo ongelukkig toe hul versoek vir gratis kos deur die restaurant afgekeur is.

Die betrokke polisielede is intussen geskors, ná hewige druk van die publiek.

“Dit is nie die eerste keer dat so iets met ons kombuisspanne in ons restaurant gebeur nie, daarom wil ons verseker dat dit die laaste keer is wat dit gebeur,” het die kitskos-winkel in ʼn verklaring op sosiale media gesê.

Twee dae voor die inhegtenisneming het ʼn paar beamptes glo die restaurant genader met hierdie versoek. Die kos was glo vir ‘n baie belangrike persoon (BBP). Volgens die restaurant het die beamptes die bestuurder gedreig voordat hulle die pad gevat het.

“Die volgende dag het die beamptes weer by die restaurant opgedaag en ons werknemers geteister en daarop aangedring dat die restaurant toegemaak moet word. Toe die bestuurder weier om gratis kos aan die beamptes te verskaf, het hulle hom en die res van die bestuurders en kombuisspan in hegtenis geneem.”

“Hulle het ons werknemers gedwing om die kombuis net so te los. Die oonde was nog aan en klante het gewag op hul kos. Hulle het niemand toegelaat om eers die kombuis of restaurant toe te maak nie.”

Volgens die kitskosrestaurant is die 19 werknemers geteister en rondgestoot terwyl hulle in polisie-aanhouding was.

“Hierdie voorval gaan nie daaroor dat kos by die restaurant gemors is of dat die kombuis kon afbrand nie, nog minder dat die uitvoerende bestuurder van Johnny & Jugnu heel aand buite die polisiestasie moes deurbring nie. Dit gaan oor 19 werkers, meestal universiteitstudente, wat elke dag hul hande flenters werk net vir die polisie om hulle so onregverdig te behandel.”

Nadat talle aanhangers van dié restaurant hul stemme dik gemaak het op sosiale media, is die nege polisiebeamptes wat betrokke was, geskors.

“Niemand mag die wet in hul eie hande neem nie,” het Inam Ghani, senior provinsiale polisiebeampte, op Twitter gesê.

Die Pakistanse eerste minister, Imran Khan, het intussen gevra dat die Punjab-provinsie se polisiediens herstruktureer word om die korruptes uit te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nerina ·

Moet net nie dat die polisie in SA hierdie “trick” hoor nie

Misky ·

Ek dadelik selfde gedink terwyl ek die artikel lees Nerina. KFC sal deure toemaak vinniger as wat jy kan “hoender” sê

Vicky ·

As jy mooi kyk is daar ñ opsie op Maroela se blad:
S.A. Nuus
Wèreld Nuus

Klik gerus op S.A. nuus alleen in die gevolg as jy nie belangstel om nuus oor die wèreld wil ontvang nie.

Elinette ·

Klink soos iets wat in SA kan gebeur – net, dit sal seker by ‘n KFC gebeur …

DIABLO ·

Het die SA regering dan nie n ruk terug hul simpatie en lojaliteit aan Pakistan gegee nie??? Selfde mentaliteit. Korrup, arm, onnosel en die ergste van alles, verdomp arrogant!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.