Kitsvloede in die VSA eis reeds 44

‘n Snelweg in New York het oorstroom. (Foto: Spencer Platt/Getty Images/AFP)

Minstens 44 mense, onder wie kleuters en bejaardes, is vandeesweek dood nadat kitsvloede in dele van New York en New Jersey voorgekom het.

Dié oorstromings volg nadat orkaan Ida Sondag oor die Amerikaanse deelstaat Louisiana beweeg het. Ida is intussen afgradeer na ʼn tropiese storm en beweeg tans deur New England.

New York het gister ʼn noodtoestand afgekondig toe dié stad begin oorstroom het.

Verskeie hoofstrate in onder meer Manhattan, die Bronx en Queens is weens die vloedwaters toegemaak, terwyl nooddienste duisende mense moes red.

Altesaam 13 mense, onder wie kleuters en bejaardes, het in New York hul lewens verloor toe hulle nie betyds uit kelders kon ontsnap nie.

“Onder die mense wat die grootste gevaar loop tydens die oorstromings, is diegene wat in kelders woon wat nie aan die nodige veiligheidsvoorskrifte voldoen nie,” het owerhede gesê.

“Die oorledenes is almal immigrante of laeinkomste-families.”

Volgens Phil Murphy, goewerneur van New Jersey, is minstens 23 mense in dié deelstaat dood nadat die meeste van hulle in hul karre vasgevang is. ʼn Lid van die plaaslike polisiediens is ook in die buurstaat Connecticut dood.

ʼn Verdere drie mense is in die New Yorkse voorstad Westchester dood, terwyl nog vier in die Montgomery-distrik buite Philadelphia in Pennsylvania dood is.

Die land se nasionale weerdiens het inwoners van hierdie gebiede aangemoedig om na hoër grond te beweeg.

Central Park ná die reën. (Foto: Alexi Rosenfeld/Getty images/AFP)

“Ons het ʼn rekordreënvalsyfer die afgelope paar dae aangeteken wat tot gevaarlike toestande gelei het,” het Bill de Blasio, burgemeester van New York, Woensdag gesê.

Die weerdiens het binne ʼn uur sowat 80 mm reën in Central Park aangeteken.

Teen Donderdagaand was minstens 38 000 huise in Pennsylvania, 24 000 in New Jersey en 12 000 in New York sonder krag.

Intussen het ʼn tornado bome uitgeruk en elektrisiteitspale in Annapolis digby Washington omgewaai. ʼn Tornado het ook Cape Cod en Massachusetts getref.

Die weerdiens het gewaarsku dat die suide van Connecticut, asook die noorde van New Jersey en die suide van New York ook onder tornado’s kan deurloop.

Meer as ʼn miljoen gesinne in Louisiana is steeds sonder krag sedert orkaan Ida daar verwoesting gesaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henri ·

Dit is baie hartseer om van so ‘n ramp en sy gevolge te verneem.

Maar is die korrekte term nie ‘flitsvloede’ eerder as ‘kitsvloede’ nie? Jammer om so puntinerig te wees.

Janice du Plessis ·

Dagsê Henri
Dankie vir jou kommentaar.
Volgens die aanlyn Pharos woordeboek is die korrekte term “kitsvloede”.
Groetnis
Janice
nms Maroela Media

Henri ·

So leer ‘n mens elke dag iets nuuts. ‘Kits’ klink soos kitspoeding. Ek het geleer van ‘flitsvloede’ van kindsbeen.

Elinette ·

Kitsvloede is korrek. Flitsvloede sal ‘n direkte vertaling uit Engels vanaf “flash floods” wees. ‘n Vloed flits nie; dit kom in ‘n KITS op mense af.

Henri ·

Dankie Elinette. Dit maak sin as jy die so verduidelik. Maar sal ‘blitsvloed’ nie dan beter wees nie? ‘Kits’ klink te veel na kosmaak, maar dan dink ek seker maar ook met my maag so naby aan middagete.

JM ·

Henry, jy is reg oor “kitsvloede”, maar dit is nie PUNTINERIG nie, maar puntEnerig.

Henri ·

Baie dankie JM. Ek bloos so bietjie terwyl ek vir my eie ou foutjie glimlag!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.