Kiwi gered na SOS in sand

sos‘n Nieu-Seelander wat Saterdag uit ʼn seiljag in ruwe see oorboord geval het, is gered nadat hy SOS op die strand uitgekerf het.

Todd Vercoe (36) het glo oorboord geval toe hy homself gaan verlig het. Hy het geskree, maar sy twee makkers kon hom nie oor die motor van die boot hoor nie en hulle was boonop in die kajuit. Hy beskryf homself nie as ‘n wafferse swemmer nie en het ook nie ʼn lewensreddingsbaadjie aangehad nie, maar moes noodgedwonge na die naaste land swem – die rotse van die eiland Rimariki. Hy het tydens die drie uur lange swem in die see gemeen dat hy dit nie gaan maak nie, maar dan maar weer uitgehaal.

By die rotse aangekom het hy gereken dis veiliger om nog 400 meter verder na ‘n skiereiland aan Nieu-Seeland se noordkus te swem, al was hy baie bang vir haaie. Die skiereiland, Kaituna, is naby Nieu-Seeland se mees noordelike stad, Whangarei.

Sy vriende het reeds hulp ontbied en hy het die reddingshelikopter in die lug sien draai. Hy het die letters SOS op die sand gekerf, en die vlieënier van ‘n reddingshelikopter het dit opgemerk.

Vercoe is opgepik en in die hospitaal opgeneem waar hy verkluiming behandel is – ‘n lekker warm bad.

Bron: De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.