Kleinste oorlewende baba ‘so groot soos ʼn appel’

Klein Saybie is op net meer as 23 weke gebore en het ‘n skamele 245 g geweeg. (Foto: Sharp HealthCare via AP)

Met haar geboorte op 23 weke en drie dae het Saybie nét meer as ʼn appel geweeg.

Nou, vyf maande later, is sy tuis as ʼn gesonde baba wat 2 kg weeg.

Saybie is volgens ʼn hospitaal in San Diego in die VSA die kleinste oorlewende mikro-prematuurbaba nóg. Sy is in Desember verlede jaar gebore en het ʼn skamele 245 g geweeg.

Dokters het haar pa ná haar geboorte ingelig dat hy waarskynlik ʼn uur het om met sy pasgeborene deur te bring.

“Dié uur het twee uur geword en daarna ʼn dag en toe ʼn week,” het die baba se ma in ʼn video wat die Sharp Mary Birch Hospital for Women & Newborns uitgereik het, gesê.

Die baba se gesin het toestemming gegee dat hul verhaal met die publiek gedeel kan word, maar het gevra dat hul name nie genoem word nie, het die hospitaal gesê. Hulle het ingestem dat die naam wat verpleegkundiges die baba gegee het, “Saybie”, gebruik kan word.

Haar plek op die ranglys as die wêreld se kleinste oorlewende baba, is volgens ʼn register wat die Universiteit van Iowa byhou.

Tuis en gesond. (Foto: Sharp HealthCare via AP)

Dr. Edward Bell, professor in pediatrie by dié universiteit, het gesê Saybie het die laagste medies bevestigde geboortegewig gehad wat nóg in die register opgeteken is.

Hulle kan egter nie die moontlikheid uitsluit dat selfs kleiner babas al gebore is, maar nié daar opgeteken is nie, het Bell in ʼn e-pos aan Associated Press gesê.

Volgens die hospitaal het die babadogtertjie 7 g minder geweeg as die vorige kleinste baba, wat in 2015 in Duitsland gebore is.

In die hospitaal se video beskryf die ma klein Saybie se geboorte as die skrikwekkendste dag van haar lewe.

Sy is hospitaal toe omdat sy olik gevoel het en preëklampsie by haar gediagnoseer is. Dit is ʼn ernstige toestand wat hemelhoë bloeddruk veroorsaak. Die baba sou inderhaas gebore moes word.

“Ek het aanhou sê sy gaan dit nie oorleef nie, sy is maar net 23 weke oud,” het die ma gesê. Maar sy hét.

In die neonatale intensiewesorgeenheid het die kleintjie stadigaan gewig opgetel.  ʼn Pienk bord langs haar bedjie het gelees: klein, maar sterk.

Ander kennisgewingborde het haar gewig en boodskappe van bemoediging gehad, terwyl die baba se geboortegewig, wat met dié van ʼn hamster vergelyk kan word, toegeneem het.

“Jy kon haar skaars in die bedjie sien, só klein was sy,” sê Emma Wiest, ʼn verpleegkundige, in die video.

(Foto: Sharp HealthCare via AP)

Daar is ook foto’s van Saybie met ʼn gespikkelde strik wat haar hele kop bedek, met net klein ogies wat daaronder uitloer. Toe sy uiteindelik ontslaan word, het verpleegsters ʼn piepklein akademiese pet op haar kop gesit.

As ʼn mikro-vroeggeborene (ʼn baba wat voor die 28ste week van swangerskap gebore word), lê ʼn opdraande stryd steeds vir Saybie voor. Babas soos sy sukkel dikwels met sig- en gehoorprobleme, asook ontwikkelingskwessies en ʼn menigte ander moontlike komplikasies.

Talle van hulle oorleef nie hul eerste lewensjaar nie, sê Michelle Kind van March of Dimes, ʼn organisasie wat moeder- en babagesondheid bevorder.

Vir sommige het haar oorlewing dalk hopeloos gelyk, maar tot dusver het Saybie hulle verkeerd bewys.

“Sy is ʼn wonderwerk, dis gewis,” het Kim Norby, sê nog een van die verpleegkundiges in die video gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gesiggie

Klein wonderwerkie…pragtig” mag Jesus jou nog baie mooi en gesonde jaartjies gee, baie bly dat sy nou tuis is. Voorwaar n Blessing.

Schalla

En dan is daar mense wat wil sê dis nog nie lewe en/of ‘n klein mensie nie?

LD

@Schalla – waar en so hartseer! Ek het op ñ ander berig (nie MM nie) gelees hulle het die wet verander in New York en mag die vrou al ñ aborsie hê op 38weke…..wat dan mos al amper vol term is! Dis belaglik, en moord! Daai is ñ mensie – van dag 1 af! Mag die klein mensie nog baie jare gespaar bly! Te pragtig!

Ra Amon Khan

.
.
Daar is by die “konsepsie oomblik” waar die eiersel en sperm een word n vinnige flits van lig wat net waargeneem kan word met n spesiale mikroskoop…dis die oomblik wat die siel aan die sel toegeken word en lewe begin……aan God die Skepper al die Glorie!.
.
Julle sal DIT nêrens op tv hoor of in koerante lees nie.
.
.

LD

@Annette – Ek sê nie ek glo dit nie! Ek sê net wat ek gelees het! En daar is vrouens daar buite wat aborsies kry op 38weke wat geen een van daai risiko’s het nie! Dis wat ek sê is moord en belaglik dat daar sogenaamde dr’s is wat die procedure doen! Moet asb nie iemand aanval as jy nie weet wat presies die bedoeling is nie!