Kletsrymer in sop oor Trump-‘skietvideo’

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Die Amerikaanse kletsrymer Snoop Dogg is in die sop oor ʼn nuwe musiekvideo waarin die VSA se president, Donald Trump, glo geskiet word.

Dié video, glo met die doel om polisiebrutaliteit aan die kaak te stel, is vroeër vanjaar uitgereik.

In die video verwys die sanger onder meer na Philando Castile wat verlede jaar deur polisie in die deelstaat Minnesota tydens ʼn padblokkade doodgeskiet is.

Polisielede word verder as narre uitgebeeld. Een van dié narre, Ronald Klump – ʼn stekie na Trump – word kwansuis deur Snoop Dogg geskiet.

Senator Marco Rubio, ʼn lid van die Republikeinse Party, het vandeesweek die video ten sterkste veroordeel. Rubio het gesê die video-inhoud is onvanpas omdat Amerikaanse presidente al voorheen in die land vermoor is.

“As die verkeerde persoon so iets sien en ʼn idee kry, kan ons ʼn groot probleem op hande hê. Ek is nie seker wat Snoop Dogg gedink het nie,” het hy aan TMZ gesê.

Die sanger het intussen teruggekap en gesê die video was nie veronderstel om omstrede te wees nie, maar ʼn uitbeelding van die waarheid.

“Baie mense maak lekker musiek, maar dit lyk nie asof enigiemand die werklike kwessies aanroer nie – ʼn nar as president,” het hy laat hoor.

Snoop Dogg is sedert 1990 ʼn bekende en gewilde kletsrymer. In die VSA is meer as 23 miljoen van sy albums verkoop en wêreldwyd meer as 35 miljoen.

Kyk die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Oom Walker ·

“Kletsrym” en “Musiek” hoort nie in dieselfde sin nie….

John ·

Dit was die siek idee, ja. Die hommeltuig-wereldpers soek die bloed van Trump as ultra-nuusbrokkie vir die bevrediging van hul geestelik-versteurde grootheidswaan en draaiboekskrywers staan gereed vir ‘n mega-rolprent oor hul eie post-waarhede en die ultra-verskrikking wat sal volg… en Navo staan ook gereeld: Die 3e WO met die Engelse oumatjie wat die knoppie gaan druk en dan saam met vriendinne spog oor nog ‘n leier wat die stof gebyt het en hoeveel olie VSA-vriende kan tap uit Rusland se vorige olievelde… en natuurlik die… diamante… en ou kunsskatte… oe-eee!

Lynette Schultz ·

Oom Walker, ek kon dit nie beter gestel het nie! Ons gesin het ‘n ‘sneller-woord’ wat ons gebruik wanneer gemors opgedis word as kuns, kultuur en skoonheid of wanneer mense enige leuens glo wat versprei word deur die media – ‘Keiser’, i.e. “Die Keiser is kaal!”…. en “….En wat Afrikaans of Hollands praat en as syn taal begeer, dié is dwaas, ‘n arme sukkel, vreeslik dom en ongeleer! En as hy van reg durf praat, word eenvoudig dit geseg: “Jou rumoer- en oproermaker, weet jy dan nie Mag is Reg?” Die ‘slimmes’ sê kletsrym is ‘n kuns. Dan is ek salig dom!

Reinhardt ·

Al wat dit beteken is dat jy’t nog nie ‘n kletsrymmer gevind waarvan jy hou nie. Ek is glad nie mal oor dit nie, moet my nie verkeerd verstaan nie, maar om dit bloot af te skryf is waansin. Luister Bittereinder, hulle het van die beste lirieke wat ek al gehoor het.

Ada ·

Lyk my hulle het niks anders om te doen as om vir Trump aan te val nie. Wat ‘n nuttelose lewe het hulle nie.

AL ·

Snoop Dogg hits polisiemoorde aan en om die president te ‘skiet’ is ook n aanhitsing.
Musiek het baie mag en die jong mense wat hom idealiseer, kan moontlik toegee aan dit.
Die Amerikaanse polisie moet bontstaan, want daar is net so baie malletjies wat daar rondloop soos hier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.