Kletsrymers gedagvaar oor stormloop by konsert

Scott se optrede was deel van ʼn musiekfees wat Vrydag en Saterdag sou plaasvind. (Foto: Alex Bierens de Haan/Getty Images via AFP)

Die kletsrymers Travis Scott en Drake is gedagvaar vir hul aandeel in die chaos wat tydens ʼn stormloop by Scott se konsert in die Amerikaanse deelstaat Texas uitgebreek het. Agt mense is tydens dié stormloop Vrydagaand dood en talle is beseer.

Die prokureursfirma Thomas J Henry Law het Sondag bevestig dat hy een van sy eerste dagvaardings oor die voorval teen Scott uitgereik het. Die eiser, Kristian Paredes (23), is een van dié wat ernstige beserings tydens die stormloop opgedoen het.

Scott se optrede was deel van ʼn musiekfees wat Vrydag en Saterdag sou plaasvind.

Maroela Media het vroeër berig dat nagenoeg 50 000 konsertgangers Vrydagaand byeen gekom het vir Scott se optrede toe gretige aanhangers van agter af vorentoe na die verhoog gedruk en chaos veroorsaak het.

Agt mense, tussen die ouderdomme van 14 en 27 jaar, is tydens die konsert dood, terwyl 25 mense na die hospitaal geneem is vir ernstige beserings. ʼn Verdere 300 mense is vir ligte besering op die toneel behandel.

Paredes dagvaar ook die organiseerder van die konsert, Live Nation, en die plek waar dit plaasgevind het. Volgens hom het hy skielik gevoel hoe hy van agter af gedruk word toe Scott op die verhoog gekom het.

“Die skare het mal gegaan en ʼn stormloop veroorsaak,” sê hy.

“Baie mense het die veiligheidswagte wat deur Live Nation aangestel is gesmeek om hulle te help, maar is eindelik net geïgnoreer.”

Die dagvaarding beweer dat Scott ook chaos by vorige geleenthede aangehits het en dat die beskuldigdes daarvan moes geweet en die nodige voorsorg getref het.

Drake, die Kanadese kletsrymer wat saam met Scott opgetree het, word ook daarvan beskuldig dat hy bygedra het om die tragedie te veroorsaak.

“Toe Drake saam met Scott op die verhoog kom, hy het gehelp om die skare aan te vuur al het hy geweet van Scott se optrede by vorige konserte,” lui die klag.

“Hy [Drake] het egter aangehou om op te tree, selfs toe die skare buite beheer geraak en die chaos voortgeduur het.”

Nog dagvaardings

Die prokureurs Ben Crump en Bob Hilliard het ook Sondag aangekondig dat hy ʼn saak teen Scott en die organiseerders van die Astroworld-musiekfees aanhangig gemaak het. Crump het die klag ingedien namens die 21-jarige konsertganger Noah Gutierrez.

Die prokureurs verwag glo om later die week nog sake teen die kletsrymer aanhangig te maak.

“Ons hoor afgryslike stories oor die vrees en hulpeloosheid wat mense tydens die konsert ervaar het – die afgryse van mense wat vertrap is en die verskriklike trauma om te sien hoe mense sterf terwyl ander konsertgangers onsuksesvol probeer om hulle te red.”

Oorlewendes van die voorval het glo gru-tonele aan owerhede beskryf van mense wat teen mekaar vasgedruk is en baie wat sukkel om asem te haal.

Een konsertganger, Gavyn Flores (18), sê hy en talle ander is ure lank aan die kant van die afskortings gedruk, maar kon naderhand daarin slaag om ʼn aantal mense oor die afskorting te help klim.

Scott, wat die Astroworld-musiekfees in 2018 van stapel gestuur het, het glo verskeie kere sy optrede gestaak toe hy sien dat konsertgangers naby die verhoog in nood was.

Owerhede in Texas is steeds besig om die tragedie te ondersoek en ook met ooggetuies, konsertorganiseerders en mense wat in die hospitaal opgeneem is te gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dries ·

Amerika is op dieselfde pad na die afgrond as SA. Danksy Biden en ANC

Perdeby ·

Sjoe ek het nie geweet as die publiek hulle nie kan gedra nie dan is dit die sangers se skuld nie.

Nick ·

Dit is ‘n tragedie dat jong mense hul lewens verloor het. ‘n Groter tragedie is dat jong mense tot so ‘n lae intelektuele vlak gedaal het om hierdie ‘kunstenaars’ te verafgod.

Belinda ·

Doen julself die guns en gaan kyk na die opening. Dis satanisties. Daar is baie stories omtrend hierdie voorval.
Nogals scary.

ronel ·

Die feit dat mense deel neem aan massa histeria en swak musiek smaak het is nie n “bose mag” nie dis bloot die degenerasie van beskawing en opvoeding waar almal regte het en niemand verantwoording het nie, die veiligheidsmaatreels was swak, die kunstenaar het geen ontferming gehad teenoor sy gehoor nie, slegs vir die geld hy kan maak uit mense. Hierdie is tipies resultate van die verval van beskawing

Sê maar net ·

Jy gaan konsert toe; en dan gaan jy dood……
Histeriese, onnodige opstokery wat uitloop op verlies van jong lewens….so tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.