Kleuter ná dae in bosse gevind

Shayla Phillips was langer as 48 uur vermis. (Foto: Tasmanië-polisie / ABC News)

’n Vierjarige kleuter wat Woensdag uit haar ouers se agterplaas in die suide van Tasmanië in Australië verdwyn het, is drie dae later in ’n bebosde gebied gevind.

Die gesin woon in Stormlea,  ʼn landelike gemeenskap op die Tasman-skiereiland. Shayla Phillips het hiér twee nagte alleen in die oopte deurgebring voordat sy Vrydagmiddag ná ʼn grootskaalse soektog opgespoor is.

ABC berig dat meer as 100 reddingswerkers en lede van die gemeenskap, snuffelhonde, perde, helikopters en hommeltuie vir die soektog na die dogtertjie ingespan is.

Shayla het glo met die bure se babahondjies gespeel toe sy saam met een van die brakkies weggedwaal het.

Haar ma, Bianca Page, het haar dogter omstreeks 14:30 as vermis aangemeld.

Die hond waarmee sy gespeel het, is ongeveer vyf uur later sowat 700 meter van Shayla se ouerhuis opgespoor. Daar was egter geen teken van die kleuter nie.

Daar is gevrees dat Shayla dalk in een van die damme of watergate in die omgewing beland het. Sy is egter Vrydagmiddag in ʼn bebosde gebied naby Hallsweg, sowat een kilometer van haar huis, gevind.

Luidens berigte het reddingswerkers haar in ʼn “dig bebosde en baie skuins” terrein opgespoor.

Die polisie het ’n rukkie later bevestig dat sy veilig en gesond is. Sy was wel gedehidreer en gedisoriënteerd en is per ambulans na die hospitaal geneem. Shayla het egter dadelik haar ma herken.

Bianca Page het dié foto van haar en haar dogter, Shayla Phillips, op Facebook gedeel kort nadat sy gevind is. (Foto: Facebook / Bianca Page)

Insp. Gavin Hallett het aan die media gesê het gesê dit was ’n “baie emosionele” hereniging.

“Toe ek die nuus aan haar ma oordra, was sy baie dankbaar en gretig om haar dogter te sien,” het hy gesê. “Ek het gesê: ‘Vat ’n paar minute om te stort’, maar sy wou dadelik in die kar klim om haar dogter te sien.”

Hallett het gesê dit was ’n ongelooflike verligting vir almal.

Een van die meisie se tannies, Melinda Abel, het die gesin se verligting in ’n Facebook-plasing beskryf: “Wat ’n wonderwerk. Dit is die beste, wonderlikste nuus ooit.”

Volgens Page het haar dogter ʼn paar skrape, bytplekke en blaasinfeksie.

“Ek wil almal wat by die soektog betrokke was uit die diepte van my hart bedank,” het sy op sosiale media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.