Kleuter red ma en boetie na gru-ongeluk

Lexi Shymanski. Foto: Facebook

Lexi en Peter Shymanski. Foto: Facebook

ʼn Vyfjarige dogtertjie van Kanada het eiehandig haar bababoetie en ma gered nadat die drie in Junie in ʼn gru-ongeluk betrokke was.

Die Daily Mail berig Lexi Shymanski (5) was saam met haar ma, Angela, en haar boetie van tien weke, Peter, in ʼn motor op pad na hul huis in Prince George, British Columbia, toe haar ma onverwags agter die stuur flou geraak het. Die motor is teen ’n steilte van sowat 13 meter af en het teen ’n boom tot stilstand gekom.

Lexi het wakker geword van Peter wat huil en het gesien hoe haar ma bewusteloos vorentoe oor die stuurwiel lê. Dit het later aan die lig gekom dat Angela haar rug op twee plekke gebreek het. Peter het bloeding op die brein opgedoen.

Angela en Travis Shymanski, saam met hul kinders, Lexi en Peter. Foto: Facebook

Angela en Travis Shymanski, saam met hul kinders, Lexi en Peter. Foto: Facebook

Lexi het eiehandig haar motorstoeltjie losgemaak en teen die helling uitgeklim tot terug op die pad. Daar het sy vir ʼn motor gewaai om stil te hou en die bestuurder, wat toevallig ʼn paramedikus was, vertel wat gebeur het. Hy het teen die helling afgeklim om Peter en Angela te help.

Die paramedikus het geweet indien hulle Angela sou beweeg, kon sy verlam gewees het en het teruggegaan na sy motor om hulp te ontbied. Die drie Shimanskys is per helikopter na ʼn hospitaal geneem.

Volgens die Daily Mail sterk die gesin nou ná weke in die hospitaal by die huis aan. “Dit is ongelooflik en ons is so bly dat Lexi dit gedoen het,” het Angela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dave ·

Wàt ‘n intelligente klein blond! Daar red sy die blonds se reputasie.

BoereBikerBaby ·

Wel gedaan dogter… mens kan net trots wees op jou!

Jolene ·

Wow!Wat n mooi storie.Wys mens net jy moenie kleintjies onderskat nie.Daai ouers moet seker so trots wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.