Kleuter skiet ma per ongeluk in die kop

Oaks of Spring Valley-woonstelle in Altamonte Springs, noord van Orlando in Florida, VSA (Foto: Google Street View)

ʼn Jong ma is dood toe haar kind, ʼn kleuter, haar per ongeluk in die kop geskiet het terwyl sy met ʼn Zoom-oproep vir die werk besig was. Die voorval het Woensdag gebeur, het Florida-polisie gesê.

Die polisie is verlede week Woensdag na die Oaks of Spring Valley-woonstelle in Altamonte Springs, noord van Orlando in Florida, VSA, ontbied. Hulle het ʼn noodoproep op 911 gekry van haar kollega wat gesê het hulle was besig met ʼn Zoom-oproep met die 21-jarige Shamaya Lynn.

Die persoon het gesê hulle het ʼn harde geluid gehoor, gesien Lynn val agteroor en hulle het ook ʼn kleuter in die agtergrond gesien, berig plaaslike media.

Paramedici het probeer om Lynn by te bring, maar sy het aan die skietwond beswyk.

Volgens ondersoekbeamptes het een van Lynn se twee jong kinders op ʼn gelaaide vuurwapen afgekom wat nie veilig in die woonstel versteek is nie.

Die vuurwapen behoort na bewering aan die pa van die twee kinders. Speurders van Seminole County se staatsaanklaerskantoor stel ondersoek in om te bepaal of aanklagte teen die pa aanhangig gemaak sal word.

Die twee kinders is nie beseer nie. Hulle is tans in familielede se sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ES ·

Die VSA se regulasies is baie swak wat vuurwapen beheer behels. In Suid Afrika moet inspeksie gedoen word om te verseker jou kluis is op standaard en as jou vuurwapen nie aan jou gedra word nie, moet hy toegesluit in jou kluis wees.

Pure nalatigheid…

Jubba ·

Har-har vir die SA inspeksies dit is net woorde op papier niks meer nie. Regulasies is nutteloos teen nalatigheid. Kleuters, skietgoed, medikasie, sure, vlambare middels, aanstekers, vuurhoutjies en skerp voorwerpe meng nie wel nie.

Blomme ·

Dis nou tragies. Ouers moet asb meer versigtig wees as daar wapens en medikasies in die huis is.

Harley Davidson ·

Wanneer daar ‘n skiet voorval soortgelyk aan hierdie een is kan jy maar weet nalatigheid met die vuurwapen was die oorsaak,hierdie is die tipe vuurwapen eienaars wat permanent onbevoeg verlaar moet word om ‘n vuurwapen te besit .

Karen ·

Ek is stom geslaan? Hoe los mens ñ gelaaide pistool sommer net so rond… dit met kleuters in die huis? Ek wys nie vingers nie, ek verstaan net nie…

Chuck ·

Hoe tragies. Daai Pa, as hy die eienaar van die vuurwapen is, is in groot moeilikheid. Ek het vir 4 jaar in die VSA gebly, en alhoewel vuurwapens heel geredelik verkrygbaar en beskikbaar is, is die toepassing van vuurwapen wette ongelooflik streng.

Hendrik ·

Vuurwapen wetgewing in die VSA is baie gefragmenteer – elke staat het sy eie wette. Verder veg die National Rifle Association wat meeste Republikeine in hulle sak het, hard om enige wetgewing oor die verantwoordelike eienaarskap van vuurwapens te opponeer. DIs tyd vir sinvolle federale wetgewing wat deeglike agtergrondsondersoeke, bevoedgheidsopleiding en toetsing en vereistes vir die berging van vuurwapens wanneer dit nie onder jou direkte beheer is nie, ingestel word. As Biden iets goeds vir Amerika wil doen, moet hy dit doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.