Kleuters lewend gevind ná ongeluk waarin ma sterf

Die foto van die driejarige Kylen wat deur die plaaslike owerhede op sosiale media gedeel is nadat hy gevind is. Foto: Twitter via @PoliceCamden

Twee kleuterboeties van Arkansas in die VSA is vroeër vandeesweek lewend gevind nadat hulle ʼn grusame ongeluk oorleef het waarin hul ma gesterf het.

Die voorval het in Camden in die Ouachita-distrik van dié Amerikaanse deelstaat plaasgevind. Owerhede meen die twee kinders, onderskeidelik een en drie jaar oud, kon moontlik dae lank in die wrak vasgekeer gewees het voordat hulle gevind is.

NBC News berig die plaaslike polisie is Maandagoggend na ʼn toneel langs ʼn snelweg nadat hulle berigte ontvang het dat ʼn kleuterseuntjie alleen langs die pad loop. Die driejarige kind het snye en krapmerke aan sy lyf gehad. Beamptes was aanvanklik nie bewus dat die kleuter in ʼn ongeluk was nie en het ʼn foto van die seuntjie op sosiale media gedeel in ʼn poging om sy ouers op te spoor.

Dit is toe dat beamptes in kennis gestel is dat die ma van die kind al ʼn paar dae lank vermis word. Beamptes is Dinsdagoggend terug na die toneel waar die seuntjie gevind is en het die wrak van ’n motor ʼn ent weg in ʼn diep sloot langs die pad aangetref. ʼn Eenjarige seuntjie was nog in sy karstoeltjie in die voertuig vasgegespe.

Die seuntjie in die motor was nie ernstig beseer nie. Die kinders se ma, Lisa Holliman (25), se liggaam is buite die voertuig aangetref.

Die vermoede is dat die ongeluk verlede week Donderdag plaasgevind het en dat die driejarige ná ʼn paar dae gaan hulp soek het toe hy besef het sy ma word nie wakker nie.

KARK News berig James Holliman, Lisa se pa, het gesê sy dogter was vier weke swanger ten tyde van die ongeluk. Die familie het dit glo nie geweet nie en het dit eers uitgevind toe haar liggaam na ʼn hospitaal geneem is. “Ons het twee lewens op dié manier verloor,” het Holliman gesê.

Albei kinders was gedehidreer toe hulle gevind is, maar sal na verwagting ten volle herstel.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannelie ·

Sjoe my hart sit nou in my keel. Om dae honger en dors te wees. Dankie Here dat U, U hand oor die tweetjies gehou het.

Penellope Jones ·

Ek sit hier met yskoue rillings!
Die trauma wat hierdie kindertjies deur is en heelmoontlik nog in is!

Al ·

Arme kinders. As die 3jarige kind nie hulp gaan soek het nie, was hul albei dood.

VanAfrika ·

Oeroue instink het hier ingetree, die desperate gevoel om oorlewing dryf enige iemand se instink vir redding Sy instink het hom na die hoofpad gedryf vir hulp. Oulike kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.