Kliniek bied verligting vir Zimbabwiërs

Dr. Paul Thistle, mediese direkteur van die Karanda Mission-hospitaal (2 Maart 2024) (Foto: Jekesai Njikizana/AFP)

Buite ʼn hospitaal in landelike Zimbabwe staan talle mense geduldig en wag onder bome of in klein tente oor nuus van hul geliefdes.

Verkopers bied snoepgoed, vrugte en koeldrank aan diegene wat in rye voor die hek staan by die kliniek.

Zimbabwe se staatsgesondheidstelsel het byna heeltemal ineengestort ná jare se wanbestuur, te midde van ʼn tekort aan fondse, personeel, medisyne en toerusting.

Wanneer hulle dit nodig het, vlieg diegene wat dit kan bekostig, insluitend regeringsministers, eerder oorsee om behandeling te ontvang. Sommige klop aan by privaat, maar relatief duur hospitale in Harare.

Talle ander reis eerder na Mount Darwin, ʼn klein dorpie sowat 200 km noord van die hoofstad, waar die Karanda Mission-hospitaal geleë is.

“Ek het nie enige hoop gehad om my tannie in Harare te laat behandel nie. Ons moes vra vir water sodat sy dit kan drink en bad of om selfs die toilet te spoel,” het ʼn man genaamd Gunira gesê.

Ná ʼn drie uur lange rit het verpleegsters sy tannie uit sy sportnutsvoertuig op ʼn draagbaar getel en haar in die gebou in geneem.

Die hospitaal, gefinansier deur die Evangelical Church of Zimbabwe, word deur drie Noord-Amerikaanse dokters bestuur. Die hospitaal is aanvanklik opgerig om inwoners in die landelike gebied te behandel, maar het ʼn reputasie opgebou as een van die beste in die land.

Die kliniek, met 150 beddens, behandel tot 100 000 mense per jaar en is byna altyd vol, sê die mediese direkteur Paul Thistle, ʼn dokter van Kanada wat met ʼn vrou van Zimbabwe getrou het.

Die kliniek het bekostigbare konsultasiefooie – sowat $15 in vergelyking met die gemiddelde $50 wat privaat hospitale in Harare vra. Pasiënte kom van reg oor Zimbabwe en selfs naburige Zambië om hier behandeling te ontvang.

ʼn Groep swanger vroue buite die Karanda Mission-hospitaal in Mount Darwin (Foto: Jekesai Njikizana/AFP)

“Ons sal nooit ʼn pasiënt wegwys nie,” het Thistle aan AFP gesê. “Karanda staan uit omdat ons die mees moderne medikasie het en die beste diagnostiese tegnologie en toerusting, maar ook weens die ontasbare.”

Dit beteken personeel wat vir hul pasiënte omgee – iets wat elders nie volop is nie, sê sommige pasiënte.

Zimbabwiese dokters en verpleegsters het die afgelope paar jaar in massas oorsee verhuis weens swak werksomstandighede en te midde van wegholinflasie.

Om die uitstroming te beperk maak owerhede dit moeilik vir hulle om die nodige dokumente te kry om hul kwalifikasies te bewys – dit lei tot verdere frustrasies vir mediese personeel. Stakings kom algemeen voor.

“Die bedryf word al jare lank geteister deur erge onderfinansiering,” het Itai Rusike, hoof van die Community Working Group on Health, ʼn groep wat hulle vir mediese personeel beywer. “Menslike hulpbronne is uitgeput, maar ook gedemotiveer weens swak inkomste, swak werkstoestande en gesondheidsinstansies wat nie behoorlik toegerus is nie.”

Die ministerie van gesondheid het nie gereageer op ʼn versoek om kommentaar nie.

Geen water, geen medisyne

Pres. Emmerson Mnangagwa het voor die verkiesings in Augustus verlede jaar ʼn nuwe “moderne” kliniek in Bulawayo oopgemaak.

Kritici sê egter dat die spoggerige lintsny-oefeninge nie opgevolg word deur sistemiese hervorming om die gesondheidsbedryf te red nie.

Talle hospitale het nie die nodige toerusting om radiografie, kankerbehandeling of ander prosedures te hanteer nie.

Infrastruktuur het ineengestort en hospitale het gereeld nie elektrisiteit of water nie.

Daar is ʼn gebrek aan selfs basiese medisyne.

Regis Matinenga (50), wat met tuberkulose gediagnoseer is, moes 343 km reis om in Karanda behandeling te ontvang. Hy is al langer as ʼn jaar siek, maar nie een van die hospitale waar hy aangeklop het “kon hom beter diens aanbied nie”, het hy gesê.

Omdat die kliniek so afgeleë is, moet familielede van die pasiënte gereeld buite kamp opslaan – soms vir dae lank.

Plaaslike entrepreneurs het kamertjies in hul winkels ingerig en verhuur dit vir tot $15 per nag.

Die hospitaal het verlede jaar nie enige moedersterftes aangeteken nie – teen ʼn hoë nasionale sterftekoers van 363 per 100 000 geboortes. Die hospitaal wil verder uitbrei.

Dit is die bestuur se “begeerte om ʼn hostel te bou vir familielede sodat hulle ook behoorlike behuising kan hê”, voeg Thistle by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

hpven ·

Staatsgesondheidstelsel ineengestort, klink bekend! Dieselfde hier met die verskil Ramaphosa probeer die privaat gesondheidstelsel ook vernietig! Viva Afrika die een soos die ander, sonder brieke oor die afgrond! As iets werk plunder en breek dit tot dit nie meer funksioneer nie… dan is dit nog ‘n Afrika sukses… Ons tel voort…

Karoo ·

Ek wonder… wie gaan ons dan eendag help? Watse grens gaan ons kan oorsteek en hand uit steek wanneer ons dit nodig het?

Republikein in die Wes Kaap ·

Karoo, niemand gaan kom help nie. Ons is op ons eie. Kom ons hoop Solidariteit maak reeds planne, soos mobiele hospitale op private grond waar ons mense behandel kan word.

JohanR ·

Moenie bekommer. Nog 5 jaar van die ANC dan lees dit soe – Suid Afrika se staatsgesondheidstelsel het byna heeltemal ineengestort ná jare se wanbestuur, te midde van ʼn tekort aan fondse, personeel, medisyne en toerusting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.