Koerde neem Europa op hol

Die IS-vlag kan van die Turkse kant van die grens naby Kobani gesien word Foto: BBC (EPA)

Die IS-vlag kan van die Turkse kant van die grens naby Kobani gesien word Foto: BBC (EPA)

Groot ontsteltenis heers wêreldwyd nadat die IS se vlag Maandag in ʼn deel van ʼn oorwegend Koerdiese stad in Sirië, gehys is.

Koerdiese betogers het Maandag in verskeie Europese lande betoog teen die lande se onwilligheid om in te gryp by die stad, Kobani, wat reeds gedeeltelik in die hande van die IS is. Deur die loop van Maandagnag het meer as ’n honderd Koerde die Tweede Kamer (laerhuis) van die Nederlandse parlement bestorm en beset. Klik hier om meer te lees.

In België is op groot skaal by ’n lughawe betoog. Ook in Denemarke, Duitsland en Swede was daar betogings.

Kobani is naby die Turkse grens geleë, en groot ontsteltenis het ontstaan toe die IS-vlag Maandag gehys is.

Die nabygeleë Turkye, wat ook taamlik langtand in die stryd teen die IS betrokke raak, is duidelik onwillig om die IS by Kobani te stuit, al vlug honderde duisende Koerde oor die grens na Turkye.

'n Groep Koerdiese betogers beset die Tweede Kamer van die Nederlandse parlement op 6 Oktober 2014 Foto: Al Jazeera (EPA)

‘n Groep Koerdiese betogers beset die Tweede Kamer van die Nederlandse parlement op 6 Oktober 2014 Foto: Al Jazeera (EPA)

Dit is byna die honderdste herdenking van die Koerdiese volksmoord aan die hand van die Turke, waartydens veral die Armeniërs, Assiriërs en sigeuners ook erg deurgeloop het. Turkye het jare lank te kampe gehad met ’n terreurstryd teen die Koerdiese Werkersparty, die PK. ’n Ongemaklike skietstilstand is onlangs aangekondig, maar die PK-leier, Abdullah Öcalan, het uit die tronk laat weet dat sou Kobani val, die skietstilstand iets van die verlede is.

Die Turke verdink die Koerde in Sirië (waarskynlik met regte) daarvan dat hulle ’n heimlike ooreenkoms met pres. Bashar al Assad het, en dat hulle bande met die PK het. Turkye is ook bekommerd dat die Siriese Koerde ’n eie staat kan vestig.

Tot dusver wil die meeste Wes-Europese lande, weens “internasionale regsimplikasies” nie aan die bombardement van die IS in Sirië deelneem nie, al is hulle in Irak daarby betrokke. Turkye probeer selfs Turkse Koerde te verhinder om die grens oor te steek om hul volksgenote in Sirië te hulp te snel. Koerde betoog oral in Turkye en word onder waterkanonne en traangas gesteek. Dit plaas Kobani in ’n baie moeilike posisie.

Die Koerde is bekommerd dat hulle dieselfde lot aan die hand van die IS sal te beurt val as wat die Christene en Yazidi’s in Irak te beurt geval het.

’n Afvaardiging van Koerdiese leiers het Dinsdagoggend met die buitelandse sake-komitee van die Nederlandse parlement gesprek gevoer, soos ooreengekom toe hulle deur die loop van die nag hul besetting opgeskort het.

Bron: Verskeie berigte van Trouw
Klik hier om ‘n video van BBC te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.