Kolibrievoël breek rekord vir laagste liggaamstemperatuur

Een van die ses spesies kolibrie. (Foto: Blair Wolf)

ʼn Onlangse studie wat in die joernaal Biology Letters verskyn het, het bevind dat kolibries wat in die Andesberge in Peru woon hul liggaamstemperatuur tot naby vriespunt kan afbring om koue nagte te oorleef.

Prof. Andrew McKechnie, professor in dierkunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) en navorsingshoof in bewaringsfisiologie by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut, is deel van ʼn span navorsers wat hierdie verskynsel ontdek het.

Volgens die navorsers kan kolibries se liggaamstemperatuur van 40 °C tot 3,3 °C daal. “Dit is tot dusver die laagste liggaamstemperatuur van enige voël of soogdier wat nie hiberneer nie,” sê McKechnie.

Die klein nektarvreters gaan in ʼn toestand genaamd torpor in om energie te bespaar. “Torpor is die doeltreffendste manier vir soogdiere om energie te bespaar,” sê McKechnie.

“Dit is ʼn toestand van onaktiwiteit met die doel om energiebehoeftes in die koue of in ʼn baie droë klimaat te verminder. Die energiebesparing vind plaas omdat die voël sy liggaamstemperatuur en metaboliese tempo ver onder normale vlakke verlaag.”

Die kolibries woon ongeveer 4 000 m bo seevlak in die Andesberge in Peru en gebruik dus hierdie oorlewingstaktiek wanneer temperature drasties daal.

Prof. Andrew McKechnie van die UP. (Foto: Verskaf)

Volgens McKechnie is die toestand van onaktiwiteit broodnodig vir die voortbestaan van kolibries aangesien hulle nie genoeg energie gedurende die dag kan stoor om hulle deur die nag te hou nie. Die nektar wat hulle eet bevat nie genoeg energie nie en sommige kolibries moet daagliks tot drie of vier keer hulle eie liggaamsmassa drink om voldoende energie te verkry. Hulle het ook baie beperkte vetreserwes.

Sommige van die voëls het net vir drie ure in torpor gebly, terwyl ander tot 13 uur in die toestand gebly het. Om weer warm te word, begin die voëls bewe terwyl hul temperatuur met 1,5 °C per minuut styg. Dit kan die voëls tot ʼn halfuur neem om weer warm te word.

“Terwyl hulle bewe, genereer hulle baie interne hitte omdat hulle spiere vinnig saamtrek,” sê McKechnie. “ʼn Mens kan sien hoe hulle bewe, dan gaan hulle oë skielik oop en hulle vlieg weg.”

Kolibries het ook ʼn uiterse hoë polsslag van tot 1 200 slae per minuut, maar tydens torpor kan hul hartklop tot so laag as 50 tot 80 slae per minuut daal. Tydens hierdie toestand is hulle ook vatbaar vir roofdiere, daarom hang kolibries aan grotwande in die Andesberge.

Die span navorsers het altesaam 26 kolibries van ses verskillende spesies met misnette gevang wat aangepas is om as voëlhokke te dien. Klein kolibries, soos die bronsgetrekte komeet wat 4,9 g weeg, is bestudeer, asook die reusekolibrie wat 24 g weeg.

Elke voël is hoogstens een of twee nagte gehou. ʼn Fyn teflon-bedekte termo-koppeldraad is in elke voël se enkele opening, waar die urinêre, spysvertering- en voortplantingskanale is, geplaas om hul temperatuur te meet.

“Voedsel is ongeveer 30 minute voor donker weerhou en die voëls is na individuele hokke toe oorgedra sodat die temperatuur individueel gemeet kon word,” sê McKechnie. “Die termo-koppels is deur kleefband op die voëls se stertvere in plek gehou.”

Al die spesies se liggaamstemperatuur het tot verskillende grade gedaal, maar die swart metaalstert sʼn was die laagste met ʼn temperatuur van 3,3 °C.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rudolph ·

Ongelooflik waartoe ‘minderwaardige’ skepsels tot in staat is. (Ek hoor by mede Christene diere is minderwaardige skepsels en die mens is meerderwaardig) ????????

MakersMark ·

Die mens is die kroon van die skepping en veronderstel om oor die natuur te heers, as Genesis gelo word. Die mens se gedrag hier op aarde laat veel te wense.

Vrijburger ·

Dankie vir die artikel – nou weet ek ook uiteindelik wat is ‘n ‘hummingbird’ in Afrikaans.

Ps. Tans in Texas woonagtig en is geseend met ‘ruby throated hummingbirds’ wat die stroopkroeg op ons balkon besoek. Die klein wonderwerkies bring groot plesier in ons lewens.

Ps. Mense dink verkeerdelik ‘hummingbirds’ is die Amerikaanse ekwivalent van ons suikerbekkies. Suikerbekkies is egter ‘sunbirds’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.