‘Kombuis’-skildery verkoop vir byna R400 miljoen

Cimabue se “Cristo deriso” (Foto: AP Photo/Michel Euler, File)

ʼn Ou skildery wat in die kombuis van ʼn bejaarde vrou gevind is, het van haar ʼn multimiljoenêr gemaak.

Die seldsame kunswerk deur die Italiaanse pre-renaissance kunstenaar Cimabue is Sondag vir meer as €24 miljoen (ongeveer R386 miljoen) in Parys, Frankryk, verkoop.

Die verwagting was dat die skildery, “Cristo deriso”, €6 miljoen sou haal op die veiling deur Acteon, aldus die Franse nuusagentskap AFP. Dit is een van drie panele uit ʼn poliptiek wat die kruisiging uitbeeld en dateer uit 1280. Twee ander tonele, wat geïdentifiseer is as deel van dieselfde poliptiek, is in die National Gallery in Londen en die Frick Collection in New York te sien.

Die skildery is vroeër vanjaar in die huis van ʼn vrou, in haar 90’s, in Compiegne, Frankryk, gevind. Sy het geen idee gehad wat die waarde is van die kunswerk nie. ʼn Afslaer het die skildery in Junie opgemerk toe hy die vrou se huis besoek het as deel van ʼn inspeksie voor die huis verkoop word. Hy het voorgestel dat sy dit vir ʼn kenner gee om te waardeer. Die skildery het in die kombuis bo die vrou se stoofplate gehang.

Die vrou sal nou “die grootste deel van die geld ontvang”, het die afslaers gesê.

Die klein skildery (24 cm x 20 cm) wys Christus tussen ʼn groep mense teen ʼn goue agtergrond. Cimabue, sy regte naam was Cenni di Pepo, was aktief in die 13de eeu. Hy word beskou as een van die beste kunstenaars uit die Italiaanse pre-renaissance.

Die prys vir die skildery sluit die afslaerkoste in, aldus AFP. Besonderhede oor die koper is nie bekend gemaak nie.

Die Franse kunskenner, Eric Turquin, het die skildery bestudeer en bevestig dit is eg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leon ·

In die negentigs eb sy word nou ‘n miljoenêr. So onregverdig. Die geld sal seker nou iewers in die vergetelheid beland as sy sterf of in die verkeerde sakke beland.

Johann cb ·

Skynbaar weet die vrou nie eens wie Christus is nie! My logiese afleiding!

Lizl ·

Johann cb… hoe kan jy dit sè? Vir haar was dit dalk net `n mooi Christus skilderytjie waarna sy kon kyk as sy kosmaak. Sy het wel nie die waarde van die skildery besef nie. Almal is nie kunskenners nie.

Tong-innie-kies ·

As ek sy is vat ek die geld saam as ek eendag moet “gaan”. En as ek nie kan nie, dan gaan ek nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.