Komeet wat rakelings by Mars gaan verbyskuur skep afwagting en kommer

Komeet in aantog‘n Baie aktiewe komeet gaan op 14 Oktober vanjaar rakelings by Mars verbyskuur, en ‘n seldsame geleentheid bied vir waarnemings deur ruimtetuie wat om die planeet wentel.

Daar sal dan tuie van Europa, die VSA en Indië om Mars wentel. Maar die komeet, wat sowat 130 000 kilometer van Mars gaan verbyskuur – ongeveer ‘n derde so na as wat die maan van die aarde af is, hou ook gevaar vir die ruimtetuie in. Die komeet, C/2013-A1 Siding Spring, stuur bykans kop aan kop op Mars af, wat dan in die teenoorgestelde rigting in sy omwenteling om die son is. Die gesamentlike snelheid is meer as 200 000 kilometer per uur, wat beteken dat stofdeeltjies van so groot soos ‘n haarbreedte skade aan die Marssatelliete se instrumentasie kan aanrig.

Foto’s wat deur die Hubble-teleskoop van die komeet geneem is terwyl dit nog 571 miljoen kilometer van die son af trek, toon dat dit reeds twee plekke op die kern het waar strale gas en stofdeeltjies uitgespuit word. Dit kan wetenskaplikes help om die omwentelingspoed en rigting van die kern te bepaal, en so te bereken of daar met die verbyvlug ook strale stof en gas in die rigting van Mars gespuit word. Daar kan dan probeer word om die wenteltuie aan die ander kant van Mars te kry. Dit sal egter die unieke geleentheid vir nabye waarnemings in die wiele ry. Veral die wenteltuig wat Curiosity op Mars se oppervlak bedien en met die HiRise-teleskoop toegerus is, sal besonder veel met waarnemings te wete kan kom.

Meer kan hier gelees word. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.