Kommentaar stroom in oor koning se skildery

Koning Charles III se amptelike portret. (Foto: The Royal Family/Instagram)

Die eerste amptelike portret van koning Charles III sedert sy kroning in 2023 is vandeesweek by Buckingham-paleis bekendgestel, en dit het mense wêreldwyd aan die praat.

In die portret lyk dit asof die koning uit ʼn rooi wolk stap, iets waaroor duisende mense kommentaar gelewer het op die koninklikes se amptelike sosialemediaplatforms. Die kommentaarafdeling van die portret-plasing op Instagram is intussen gesluit nadat mense hul misnoeë oor die skildery uitgespreek het.

Sommige gebruikers het die skildery met ʼn “bloedbad” vergelyk, terwyl ander gesê het dat dit lyk asof die koning “in die hel” is.

“Dit is ʼn groot teleurstelling. Ek het iets verwag wat by die koninklike familie pas,” skryf Trixie Philpot, ʼn sosialemediagebruiker, onder die plasing op Instagram.

“Mooi, maar ek sou ʼn ander agtergrondkleur gekies het wat minder soos bloed lyk,” skryf nog ʼn gebruiker.

Die portret is deur Jonathan Yeo geverf, wat in sy loopbaan as skilder ook David Attenborough en Malala Yousafzai in portrette verewig het. Hy het ook koningin Camilla in 2014 en prins Philip in 2008 geskilder.

Volgens Yeo beeld die portret die transformasie van koning Charles se lewe sedert die kroningseremonie, net ʼn bietjie meer as ʼn jaar gelede, uit.

Hy het aan die skildery begin werk toe Charles nog die prins van Wallis was en verduidelik dat soos wat die tyd aangestap het, het koning Charles se rol in die publieke oog verander.

“Ek doen my bes om die lewenservaringe en menslikheid van elke onderwerp vas te vang, en ek hoop dit is wat ek met hierdie portret reggekry het,” sê Yeo.

In die skildery is Charles in die uniform van die Walliese wagte geklee, waarvan hy in 1975 die regimentskolonel geword het.

Een gebruiker het die skildery vergelyk met die een wat destyds deur Graham Sutherland van Winston Churchill geverf is. Die portret is in 1954 aan die voormalige Britse premier as ʼn 80ste verjaarsdaggeskenk geskenk.

Daar was groot oproering oor dié portret, en Churchill het na bewering self ʼn jaar ná die bekendstelling daarvan opdrag gegee dat dit verwoes word.

In ʼn video wat gedeel is van Charles se skilderybekendstelling, kan gehoor word hoe Camilla die portret komplimenteer.

“Ja, jy het hom,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Ryan ·

Dit lyk of dis skilder tamatiesous gebruik het. Ek hoop nie die koning het daarvoor betaal nie.

Oosieoos ·

Wie glo nog in konings wat a geld mors terwyl daar so baie armoede is

Niklaas ·

Dis ‘n netjiese en duidelik skildery van hom , maar ek sou ook liewers ‘n ander kleur gekies het.

Belinda ·

DAAI POTRET IS GE-PHOTOSHOP – hy is nie so aantreklik soos wat hy geteken is nie LOL. Honestly dink ek die potret lyk akkies met die rooi – maak nie sin nie. Maar nou ja, almal is geregtig op hul opinie…

Gaitsigubib ·

Vir my lyk die skets asof hy in die hel brand. Ek glo nie dis die simboliek wat hulle in gedagte gehad het nie, maar dees dae weet mens nie meer nie.

Henker ·

Wil in my skoene opgooi as ek die woord “transformasie” lees. Nou begin oorsee ook met transformasie.

Delia ·

Kyk ek is nou nie mal.oor die koninklikes nie, maar dis n karaktervolle pragtige skildery.

minnie muis ·

bloed rooi kleur is vir elke persoon wat dood is 1899 tot 1902 in ABW

Vinny ·

ag nee dit lyk asof hy uit ‘n rookbom uitkom, hy kort nog net ‘n rooi beret

Ronél ·

Die klem moes seker op sy gesig val en nie op die koninklike uitrusting nie???

OU SAAR ·

Nee o griet…
Dis darm te erg. Maak die agtergrond ń ander kleur, bv blou en sit nog so paar skoenlappertjies by…
Daai 2tjies wat daar rondfladder lyk darm verdwaald.
Siestog.

Trinity ·

Die “versteekte” beelde in die “agtergrond” dui seker op al die mense / lande waar die Britte gaan moeilikheid maak/soek het.
@Ou Saar: Waar is die tweede skoenlapper ongeveer? Ek kry net die 1 naby die skouer… Dit voel soos ‘n “Where’s Waldo” prent…

Danie ·

Ja nee, almal skree vryheid van spraak en vryheid van beriggewing ens ens maar maklik word n kommentaarafdeling net gesluit.
Ek wonder waar het ek dit al voorheen teegekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.