Kommer ná China regulasies oor renosterhoring verslap

Argieffoto (Foto: Rhino Horn Auction)

Die Chinese regering het Maandag aangekondig dat die gebruik van tierbeen en renosterhoring wettig vir medisinale doeleindes aangewend kan word.

Die binnelandse handel in antieke tier- en renosterprodukte is ook nou onder sekere omstandighede wettig. Luidens die regering se aankondiging mag dié dierprodukte slegs afkomstig wees van diere wat in aanhouding geteel is.

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het sy ernstige kommer hieroor uitgespreek en ʼn dringende beroep op China gedoen om die volledige verbod op die handel in tierbeen en renosterhoring in plek te hou. “Dit is noodsaaklik vir die bewaring van dié ikoniese spesies. Dit moet uitgebrei word om die handel in alle tier-ledemate en ‑produkte te dek,” het Andrea Weiss, mediabestuurder van die WWF, gesê.

Weiss meen dit is uiters kommerwekkend dat China dié 25 jaar oue verbod gedeeltelik gelig het en ʼn handel “wat verwoestende gevolge wêreldwyd sal inhou”, toelaat.

“Die handeldryf in tierbeen en renosterhoring is in 1993 verban. Die hervat van ʼn wettige mark vir die produkte is ʼn reuse‑terugslag in die pogings om hierdie diere in die natuur te bewaar.”

Weiss meen China se ondervinding met die binnelandse ivoorhandelbedryf het getoon hoe moeilik dit is om wettige en onwettige markte vir ivoor te beheer. “Nie net kan dit lei tot die risiko van die wettige handel wat as dekmantel gebruik kan word vir onwettige handel nie, die beleid sal ook die aanvraag wat sedert die verbod afgeneem het, weer stimuleer.”

Die WWF meen selfs al word die handel tot antieke produkte en gebruik in hospitale beperk, sal dié handel verwarring onder gebruikers veroorsaak oor wat onwettig is en wat nie.

Luidens die Chinese regering kan renosterhorings en tierbene wat in medisinale navorsing of genesing gebruik word net van teelplase afkomstig wees – dit sluit nie diere in wat in dieretuine grootgemaak is nie.

“Verkope, invoere en uitvoere van produkte wat as kulturele artefakte geklassifiseer is en die vervoer daarvan vir kulturele skakeling, sal gemagtig word deur die ministerie van kultuur en toerisme en die staatsadministrasie van kulturele erfenis,” lui die aankondiging.

“Met die tier- en renostergetalle in die natuur wat so laag is en soveel bedreigings in die gesig staar, is die wettigmaking van [handel dryf in] hul ledemate net ʼn té groot risiko vir China. Die besluit is in teenstelling met die leierskap wat China onlangs getoon het met die takel van die onwettige handel in natuurlewe, waaronder die sluiting van hul binnelandse ivoormark.”

Die regering het egter gesê hul mandaat sluit die aantekening van die huidige hoeveelheid produkte asook dié in private besit in. “Produkte wat onwettig bekom is, sal gekonfiskeer word en produkte in individuele versamelings mag nie weer mee handel gedryf word nie.”

Die WWF dring daarop aan dat China ʼn duidelike plan en tydlyn uiteensit vir die sluiting van bestaande tier-teelfasiliteite wat vir kommersiële doeleindes gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eben Maritz ·

Hierdie is tragies en eenvoudig arrogant. Dit het nou tyd geword om n wet in plek te stel dat indien jy gevang word as n stroper of onwettig handel in die goedere kry jy die doodstraf, klaar. Geen uitsluiting nie. Kyk as jy in die oosterse lande gevang word met dwelms kry jy mos die doodstraf. Wat maak die anders. P

Eben Maritz ·

Ek verstaan dat daar wettig gejag kan word op van die spesies, met die korrekte goedkeuring sowel permitte, maar die verklaring deur China om wettig met die produkte te handel gaan n massiewe DIREKTE inpak hê op ons stroper-probleme. Ek beaam net weer, “indien jy gevang word vir stropery of onwettige handel, afgesien van waar jy kom of woon, in SA kry jy die doodstraf. Stropers behoort sommer op die plek waar hy gevang word, geskiet te word. Dit is die enigste manier wat hierdie tendens of te wel misdaad sal einde kry. Jy kort net 1 of 2 voorbeelde dan is die boodskap uit. Groete

Alida ·

China kan nou doen net wat hulle wil en CR gaan hulle nie keer nie want ons leen mos geld by hulle.

AndreC ·

eintlik wat nou moet gebeur is dat daar onder beheer met renosters geboer kan word. Sodoende word die hele proses wettig die pryse kom af en daar is nie n behoefte om renosters te stroop. Ek dink aan die veiling in die begin van die jaar waar renoster horings gekoop kon word wat afkomstig is van die grootste renoster boer in die wereld.

Skyn ·

Het julle die versugting van John Hume gehoor, toe hy gevra het vir wettiging van verkoop van Renosterhoring.
Horings kan mos ge-oes word soos skape skeer. Maak dit moontlik vir mense om dit wettig te koop, dan kan mense soos Mnr Hume genoeg fondse bekom om voort te gaan om sy renosters te boer. Niemand wil se onderneming koop nie, want daar is geen voldoende opbrengs om dit lewensvatbaar te maak nie.

John ·

…. en alles gebou op mites, naamlik dat die horings muti van die gode is. Dis ook hoekom Sjina so van globalisering hou en bele in Afrika. En dan word Sjina aanbeveel as nuwe vaderland vir Afrikaners… blaas my siel.

Kits Sop ·

Gee enige dier ‘n kommersiële waarde en dit sal oorleef. Dit is tog nie moeilik om te sien hoe floreer hoenders beeste skape en rooibokke nie. En SITES het lande stemreg waar daar nie in die laaste 50 jaar ‘n renoster of leeu rondgeloop het nie.

Grassie ·

Die Sjinese is besig om die hele wêreld te plunder. Kyk maar hier by ons wie sit agter die smokkelhandel in renosterhoring, ivoor en perlemoen. Hulle is nou sterk op pad om ons minerale ook te plunder. In Namibië langs die skedelkus het ek gesien dat hul vissersbote sommer naby die land, net agter die branders, besig is. Volgens die plaaslike mense daar is daar ‘n moederskip net oor die horison waar die vissersbote hul vangste aflaai om terug te keer vir nog. Mense in Mosambiek vertel dat in groot dele van hul noorde die kiaatbome feitlik alles “ge-oes” is. In Angola is hulle besig om koper en kobalt op groot skaal te ontgin. Ek dink die paar dinge wat ek hier genoem het is maar net die oortjies van die seekoei. Hulle eet ook omtrent enigiets, slange, katte en meer, dit lyk vir my alles wat hulle in hul monde kan kry en kou. En ons regering kruip by hulle.

Saartjie ·

… om nie te praat van die strand in die noorde van Mosambiek waar bewoners ontruim is, en die river geblokkeer word sodat Chinese die minerale kan ontgin en die sand uitvoer na Sjina/China om as bouersand gebruik te word nie.

Veronica ·

Grassie, ek stem 100 +1% saam met jou! Die regering koester n adder aan sy boesem!! As ek en jy dit kan sien, hoekom kan hulle dit nie sien nie!!?? Word verblind deur die kleur van geld! Kannie verstaan dat Chinese sulke geklikheid kan glo soos dat dit glo medisinale waarde kan hê nie! Dis absurd! Maar hul glo dit waaragtig vir die waarheid! Hulle koppe werk nie reg nie!! Dis tyd dat ons die nuus begin versprei dat die gekookte kop v n stroper die sterkste muti is vir enige Chinese kwaal! Dit los dalk net die stopery probleem op!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.