Kommer oor Amerikaanse soldaat in Noord-Korea

‘n Wagpos by die sogenaamde gesamentlike veiligheidsgebied. (Foto: Jung Yeon-Je/AFP)

Die VSA is bekommerd dat een van sy soldate, wat in Noord-Korea aangehou word, dalk mishandel word. Dié land se owerhede het nog op geen navrae oor die soldaat se lot gereageer nie.

Die soldaat, Travis King, sou vandeesmaand na die VSA terugkeer vir ʼn dissiplinêre verhoor nadat hy tronkstraf in ʼn Suid-Koreaanse tronk uitgedien het. Hy het egter kort voor sy terugkoms ʼn lughawe in Suid-Korea verlaat en die grens na Noord-Korea oorgesteek.

Die Amerikaanse weermag het ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur, maar volgens die Pentagon is sy eerste prioriteit om die soldaat se vrylating te verseker.

“Ek is baie bekommerd dat manskap King in die hande van die Noord-Koreaanse owerhede is,” het Christine Wormuth, sekretaris van die Amerikaanse weermag, gesê.

“Ek is veral bekommerd oor hoe hulle hom dalk behandel.”

Wormuth het verwys na ʼn vorige geval waar die Amerikaner Otto Warmbier vir ʼn jaar en ʼn half aangehou is voordat hy in ʼn koma aan die Amerikaanse owerhede oorhandig is. Hy het ses dae later gesterf.

Matt Miller, woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake, het ook na Noord-Korea se geskiedenis van mishandeling van gevangenes verwys.

“Ons sal altyd bekommerd wees, gegewe hoe Noord-Korea gevangenes in die verlede behandel het. Dit is een van die redes waarom ons uitgereik het om meer inligting oor sy welstand in te win,” het Miller gesê.

“Die saak is ʼn prioriteit vir die departement en ons diplomatieke pogings duur voort.”

Volgens Wormuth het die weermag deur die Verenigde Nasies (VN) na Noord-Korea uitgereik en verskeie staatsdepartemente probeer inligting oor King se welstand insamel.

“Die departement van verdediging, die departement van buitelandse sake, die Withuis; ons almal gebruik die VN se kanale om hom terug te bring,” het sy gesê.

King sou aan ʼn tugverhoor onderwerp moes word met sy terugkeer na die VSA ná ʼn aanrandingsvoorval en gevolglike tronkstraf wat in Suid-Korea aan hom opgelê is.

Dit is onduidelik of hy nog tronkstraf in die VSA sou moes uitdien, maar Wormuth sê sy is “seker dat hy daarmee geworstel het”.

“Hy het dalk nie mooi gedink [toe hy die grens na Noord-Korea oorgesteek het] nie, maar ons weet eenvoudig nie.”

Noord- en Suid-Korea is tegnies steeds in ʼn oorlog gewikkel nadat die Koreaanse oorlog wat van 1950 tot 1953 geduur het, met ʼn wapenstilstand eerder as ʼn vredesverdrag geëindig het. Jare later is daar ʼn sogenaamde gesamentlike veiligheidsgebied ingestel op die grens van die twee lande waar soldate van Noord- en Suid-Korea ontplooi is.

King is by die gesamentlike veiligheidsgebied ontplooi toe hy iemand aangerand het en tronk toe gestuur is.

Sabrina Singh, adjunk-perssekretaris vir die Pentagon, sê nadat King sy tronkstraf uitgedien het, is hy deur veiligheidswagte na ʼn lughawe geneem om na die VSA terug te keer.

“Ek dink nie enigiemand het voorsien dat hy die lughawe sou verlaat [en die grens na Noord-Korea oorsteek] nie.”

Die Amerikaanse weermag se teenintelligensie-eenheid lei die ondersoek na die voorval, en sal bepaal of hy ʼn afvallige is.

In hierdie stadium word King egter as afwesig sonder verlof beskou.

“Ons grootste prioriteit bly steeds om King huis toe te bring en ons doen alles moontlik om ʼn manier te vind om dit te doen,” het Singh gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Wat soek hy in die eerste plek in Suid Korea? Amerika is mos nêrens in die wêreld betrokke by onderduimshede nie…

annie ·

Nee, die VSA is meer bekommerd oor sy tong… wat allerhande inligting mag kwytraak.

Charmain ·

Jip dit klink dan of hy die grens vrywillig oorgesteek het. Die skielike “besorgdheid oor sy veiligheid” is n rookskerm

SSH ·

Dis hoogtyd dat íémand begin praat…iemand wat nie bang is om die waarheid weer te gee nie…

Vriendelike Frikkie ·

Stuur vir Rambo. Hy weet hoe om met hulle galle te werk. ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.