Kommer oor vermiste tennisster verdiep ná e-pos

Peng Shuai (Foto: Greg WOOD / AFP)

Twyfel oor die egtheid van ʼn e-pos wat glo deur die Chinese tennisster Peng Shuai geskryf is, het vandeesweek tot nóg groter kommer oor haar veiligheid en welstand gelei.

Shuai, die wêreld se voormalige no. 1-dubbelspelspeler, het spoorloos verdwyn nadat sy beweer het dat Zhang Gaoli, die voormalige vise-premier, haar seksueel aangerand het. Die Chinese regering het sedert Shuai se verdwyning ook oor die gebeure geswyg.

In ʼn e-pos wat aan Steve Simon, voorsitter van die Wêreldvrouetennisvereniging (WTA), gerig is, sê Shuai sy word nie vermis nie en dat die bewerings oor die seksuele aanranding vals is.

“Ek word nie vermis nie, en ook nie onveilig nie. Ek rus net by die huis en alles is oukei,” lui die e-pos verder.

Simon het intussen gesê hy sukkel om te glo dat dié e-pos werklik deur of namens Shuai geskryf is.

“Dit verhoog bloot my kommer oor haar veiligheid.”

Simon, wat vroeër aangedui het dat hy Shuai al verskeie kere sedert haar verdwyning probeer kontak het, sê hy soek “onafhanklike en verifieerbare bewyse dat sy veilig is”.

Die e-pos is sedertdien ook uit verskeie ander oorde gekritiseer nadat ʼn skermskoot daarvan deur die Chinese uitsaaier CGTN gepubliseer is.

Sosialemediagebruikers meen die taalgebruik in die e-pos is twyfelagtig en het gemerk dat ʼn merker (“cursor”) duidelik in die skermskoot sigbaar is.

William Nee van die aktivistiese groep Chinese Human Rights Defenders sê dat Shuai se verklaring [e-pos] nie “op sigwaarde geneem moet word nie”.

“Die Chinese regering het ’n lang geskiedenis van die arbitrêre aanhouding van mense wat betrokke is by omstrede sake. Só beheer die regering diegene se vermoë om vrylik te praat en word hulle gedwing om verklarings af te lê,” het hy in ’n verklaring gesê.

Nee het verder gevra Beijing moet bewys dat Shuai nie aangehou word nie.

Shuai se bewerings teen Gaoli op Weibo, ’n platform in China soortgelyk aan Twitter, is uitgevee binne 30 minute nadat dit gepubliseer is. Chinese sensors het ook vinnig opgetree om enige melding daarvan aanlyn uit te wis.

Haar Weibo-rekening, wat meer as ’n halfmiljoen volgelinge het, is intussen steeds geblok en niemand het toegang daartoe nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Waarnemer ·

Het iemand al daaraan gedink om hierdie vise president dop te hou,as hy skuldig is aan die dame se bewerings,sal hy alles in sy vermoe doen om haar mond te snoer….of sy nou n Chinees of n Rus of watter nasie ookal is,verkragting bly n hals misdaad.

Hardekwas ·

Dié optrede kom wêreldwyd voor. Ek wonder nog altyd hoe n politikus hom/haarself belangriker ag as ander. Politici is glad nie nodig dat lande funksioneer nie. Dit is n spesie wat heeltemaal van die aardbol af moet verdwyn. Kan mense hulself indink wat n wonderlike plek sal dit nie wees as mens nooit weer lieg en bedrieg word, gemanipuleer en gedreig word, ens nie.

Thom ·

Politici en predikante ____ ” Kan mense hulself indink wat n wonderlike plek sal dit nie wees as mens nooit weer lieg en bedrieg word, gemanipuleer en gedreig word, ens nie.”

Anel ·

As sy by die huis so soos sy beweer, het iemand al gaan seker maak? Vat dit dan van daar af. Mens kan niks van boodskappe alleen glo nie.

JohanR ·

Bring haar ter voorskyn vir die wereld, en laat sy voor die media verskyn. ‘n E-pos gaan niks hulp nie. Dit kon deur enige iemand geskryf geword het en die wereld in gesteur word.

Pieter9 ·

Maar almal hou aan besigheid met China doen; wys jou die skeinheiligheid van politici… Praat, dreig… tot geld ter sprake kom, dan is alles onderhandelbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.