‘Kommer, skok’ ná tennisspeler verdwyn

Peng Shuai (Foto: Greg WOOD / AFP)

Die internasionale tennisgemeenskap het Maandag sy skok en kommer uitgespreek oor die verdwyning van ʼn Chinese tennisster kort nadat sy ʼn magtige politikus van seksuele aanranding beskuldig het.

Peng Shuai, die wêreld se voormalige nommereen-dubbelspeler, het vroeër vandeesmaand beweer dat die voormalige vise-premier Zhang Gaoli haar aangerand het. Sy is sedertdien nog nie met ’n oog gesien of van gehoor nie.

Novak Djokovic, tans die wêreld se beste manstennisspeler, het Maandag gesê hy is “geskok” oor Peng se “verdwyning”.

Chinese amptenare weier intussen om vrae te beantwoord oor Peng se lot terwyl alle verwysings na haar bewerings van die Chinese internet verwyder is.

“Ek het nie veel inligting daaroor nie; ek het ’n week gelede daarvan gehoor. Dit is eerlikwaar skokkend dat sy vermis word,” het Djokovic Maandag aan verslaggewers gesê nadat hy Casper Ruud tydens die Vereniging van Beroepstennisspelers (ATP)-jaareindtoernooi geklop het.

“Daar is nie veel meer om te sê as dat ek hoop sy is orraait en dat dit net verskriklik is nie… Ek kan my net indink hoe haar familie voel.”

Die voorsitter van ATP, Andrea Gaudenzi, het vroeër die dag gesê hy is “diep bekommerd oor die onsekerheid” wat tans om Shuai die onmiddellike veiligheid heers.

Volgens Gaudenzi het die vrouetennisfederasie (WTA) egter onlangs versekering ontvang dat sy veilig is.

Die WTA het Sondag ’n beroep op die Chinese regering gedoen om die bewerings van seksuele aanranding teen sy voormalige vise-premier te ondersoek.

Peng, een van China se bekendste tennissterre, het Gaoli onlangs in ’n sosialemediaplasing daarvan beskuldig dat hy haar drie jaar gelede by sy huis gedwing het om seks te hê.

Dié plasing op Weibo, ’n platform in China soortgelyk aan Twitter, is binne 30 minute nadat dit gepubliseer is, uitgevee. Chinese sensors het ook vinnig opgetree om enige melding daarvan aanlyn uit te wis.

Peng se Weibo-rekening, wat meer as ’n halfmiljoen volgelinge het, is intussen steeds geblok en soekers het nie toegang daartoe nie.

Bykomende bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Janee

En in China is enigiets moontlik………..

Dries

Die ANC se pelle.

Richard

Kyk maar mooi wat gebeur onder kommunisme…….

JohanR

Dir groot swart Mercedes het haar kom haal. En hier in SA het ons ‘n organasasie met die naam SAKP. Maar moet ook se ‘n meer useless organasasie kan jy nie kry nie!

minnie muis

china word mense vermoor en dan toegesmeer ……