Konflik in Oekraïne ‘kan nog jare duur’ – Navo-hoof

Só lyk dit buite Mykolaiv in die suide van Oekraïne. (Foto: Genya SAVILOV / AFP)

Navo se hoof, Jens Stoltenberg, het Sondag gesê Westerse lande moet hulle daarop voorberei om langtermynondersteuning aan Oekraïne te bied.

“Ons moet daarop voorbereid wees dat hierdie ding jare kan duur,” het Stoltenberg aan die Duitse dagblad Bild gesê. “Ons moet volhou om Oekraïne te ondersteun, selfs al is die prys wat ons daarvoor moet betaal hoog – nie net wat militêre steun betref nie, maar ook stygende energie- en voedselpryse.”

Dit volg kort nadat die Britse premier, Boris Johnson, ’n soortgelyke beroep gedoen het.

“Tyd is nou die deurslaggewende faktor,” skryf Johnson in ’n artikel vir die Sunday Times nadat hy sy tweede besoek aan Kiëf afgelê het. Hy doen ’n beroep op die Weste om te verseker dat Oekraïne die “strategiese uithouvermoë het om te oorleef en uiteindelik te seëvier”.

Wolodimir Zelenski tydens ‘n besoek aan Mykolaiv. (Foto: Oekraïnse presidensie via AFP)

Russiese magte het die afgelope weke hul visier op die ooste en suide van Oekraïne gerig sedert hulle misluk het in hul poging om die hoofstad Kiëf oor te neem.

Wolodimir Zelenski, die president van Oekraïne, het dit egter Sondag tydens ’n besoek aan die stad Mykolaiv duidelik gestel dat sy magte nié die suide van die land aan Rusland sal afstaan nie.

Mykolaiv is ’n belangrike teiken vir Rusland aangesien dit onderweg na die strategiese Swartsee-hawe Odessa lê.

“Ons sal nie die suide aan iemand afstaan nie,” hou Zelenski vol. “Ons sal alles terugneem wat ons s’n is en die see sal Oekraïens en veilig wees.”

Aansienlike skade is egter al aan die suide aangerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

miche ·

Ek lees biljoene is al spandeer aan dié sinnelose oorlog.
Wat ‘n Bose kringloop… So vinnig as wat wapentuig/ tenks vernietig word in die oorlog, so vinnig word nuwe’s vervaardig. Iemand “cash” in.

VaalDonkie ·

NAVO skuld Oekraine niks nie. En deur die konflik te ondersteun, rek hulle net die pyn en lyding van die mense in Oekraine uit. As die konflik vandag verby is, kan hulle binne ‘n jaar of twee alweer oppad na normaal wees. Maar as NAVO heeltyd inmeng gaan dit jare vat en baie meer onnodige lyding veroorsaak.

Maar dit klink vir my hulle wil aspris die hele wereld in ‘n depressie dompel. Dis die enigste ding wat vir my sin maak.

Yolandie ·

“Ons moet volhou om Oekraïne te ondersteun, selfs al is die prys wat ons daarvoor moet betaal hoog – nie net wat militêre steun betref nie, maar ook stygende energie- en voedselpryse.”. Dis net die politisie wat nie omgee vir die gewone man op straat wat sal se, maar nie saak wat die prys van petrol en kos is nie al die regerings vd wêreld sal net bly om geld na Ukraine te stuur. Wys net hierdie is ‘n poging om die gewone mense se lewens te verwoes en ons in ongekende swaarkry te dompel.

VaalDonkie ·

Seg ek ook mos. Duitsland se kanselier, Brittanje se eerste minister, ens. se eerste en enigste taak is om die welvaart van hul eie burgers te beskerm. Zelenski se werk is om Oekrainers se welvaart te beskerm. Hoe hy dit doen is sy bybie.

H.A. ·

Putin lag al die pad, want die wereld kry nou swaar, nie Rusland so erg nie. STOP DIE OORLOG.

Treurwilger ·

Natuurlik sal “hierdie ding” jare kan duur( Stoltenberg se onvanpaste beskrywing), met ‘n onophoudelike stroom wapens van ‘simpatiseerders’.
As die breedsprakerige Zelenski nie die oorlog sonder die hulp van NAVO kan wen nie, is dié ‘n wêreldoorlog wat jare gáán duur.
Laat hierdie feit insink en hou op kerm.

VaalDonkie ·

Die enigste “hulp” wat NAVO en die res van die wereld behoort te bied, is om die twee presidente om ‘n tafel te kry en ‘n einde aan hierdie sinnelose oorlog te onderhandel. Oekraine is duidelik besig om die oorlog te verloor maar tans het hulle nog bedingingsmag. Maar hoe langer dit aanhou hoe minder hoef Rusland in te gee aan hul eise.

En intussen wil Zelenski sommer nog gal braak oor China en Taiwan asof hy nie genoeg probleme in sy eie land het nie.

andre ·

Einlik NAVO se oorlog ,maar op Oekraine se grondgebied . Dis tyd dat objektiewe joernalise ons meer van Zelenski se geskiedenis leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.