Die Demokratiese Republiek van die Kongo is vry van die ebola-virus nadat 49 mense tydens ʼn drie maande uitbreking van die virus in dié land gesterf het.
“Geen nuwe gevalle is sedert 4 Oktober aangemeld nie,” het Felix Kabange Numbi, minister van die departement van gesondheid in die land, gesê. “Die einde van die epidemie beteken nie dat ons heeltemal buite gevaar is nie. Net soos enige ander land bly die DRK kwesbaar vir die moontlik invoer van die virus wat in Wes-Afrika woed.”
Die ebola-uitbreking in die DRK is van ʼn ander stam as dié in Wes-Afrika.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het minstens 5 177 persone reeds op 14 November weens ebola gesterf. Klik hier vir meer besonderhede.