Kongo: Vulkaniese uitbarsting ’n ‘vals alarm’

Talle mense het vroeër vandeesweek uit Goma gevlug uit vrees vir ’n tweede uitbarsting van die vulkaan Nyiragongo. (Foto: Simon Wohlfahrt / AFP)

Die Republiek van die Kongo (DRK) het Saterdag gesê ’n tweede vulkaan het in dié land uitgebars net om later aan te kondig dat dit ’n vals alarm was.

Dít nadat die vulkaan Nyiragongo sowat ’n week gelede uitgebars en bykans 20 000 mense se huise vernietig het. Minstens 36 mense het in dié uitbarsting omgekom terwyl groot gedeeltes van die stad Goma vandeesweek ontruim is uit vrees vir ’n tweede uitbarsting.

Die plaaslike regering het vanoggend gesê ’n ander vulkaan genaamd Murara het lawa met ’n “lae intensiteit” uitgespoeg wat na die onbewoonde gebied Virunga Park gevloei het. Dié gebied huisves sowat ʼn kwart van die wêreld se bedreigde berggorillas.

Murara is ʼn relatief klein vulkaan wat as ʼn krater van die berg Nyamuragira beskou word. Nyamuragira is nes Nyiragongo bekend vir sterk vulkaniese aktiwiteit.

Die ministerie van kommunikasie het egter intussen weer ʼn verklaring uitgereik waarin hy vanoggend se uitbarsting as ’n “vals alarm” bestempel het.

“’n Vliegtuig het pas oor die hele gebied aan die kante van die vulkaan gevlieg. Geen uitbarsting is waargeneem nie,” lui die verklaring.

Luidens die verklaring het “intensiewe aktiwiteite om hout tot houtskool te verbrand” rook tot gevolg gehad wat toe as vulkaniese aktiwiteit beskou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.