Koningin Elizabeth (96) sterf

Koningin Elizabeth II in Junie vanjaar. (Foto: Frank Augstein / POOL / AFP)

Koningin Elizabeth II, die Britse monarg, is Donderdagmiddag dood. Sy was 96 jaar oud.

Dié nuus is pas deur Buckingham-paleis bevestig.

“Die koningin is vanmiddag vreedsaam oorlede by Balmoral. Die koning en koningin gemalin sal vanaand by Balmoral bly en môre terugkeer na Londen,” het die koninklike familie in ʼn verklaring gesê.

Klik hier om te lees watter protokol nou gevolg word.

Koningin Elizabeth II het in Februarie vanjaar die eerste Britse monarg geword om sewe dekades lank te regeer. Sy het by dié geleentheid haar “opregte wens” uitgespreek dat Camilla, die vrou van haar oudste seun en erfgenaam prins Charles (73), uiteindelik as gemalin van die koning bekend sal staan.

Indien die koningin se wens vir Camilla (74), hertogin van Cornwall, realiseer, sal sy bekend staan as koningin Camilla, aldus koninklike kenners.

Koningin Elizabeth II het op 6 Februarie 1952 as 25-jarige die troon bestyg ná die dood van haar pa, koning George VI. Koningin Elizabeth II was slegs die tweede Britse monarg om ʼn silwer-, goue- en diamantjubileum te vier wat onderskeidelik 25, 50 en 60 jaar op die troon gedenk en het in September 2015 koningin Victoria se 63 jaar en sewe maande op die troon oortref.

Vrese het Donderdagmiddag oor koningin Elizabeth II se gesondheid toegeneem nadat Buckingham-paleis in ʼn hoogs ongewone verklaring gesê het dat die monarg se dokters tans “besorg” is oor haar toestand.

Die 96-jarige staatshoof, en Brittanje se langsdienende monarg, is ook aanbeveel om onder mediese toesig te bly.

Die koningin word sedert Oktober verlede jaar deur gesondheidsprobleme geteister wat haar mobiliteit aantas. Sy het gevolglik talle geleenthede die afgelope jaar, waaronder dié van haar platinum-jubileum, misgeloop.

Maroela Media het vroeër berig dat die staatshoof in Februarie vanjaar ook positief vir die koronavirus getoets het – twee weke ná sy 70 jaar op die troon gevier het, wat toe al kommer oor haar gesondheid laat ontstaan het.

Sy het haar Woensdag aan ’n beplande vergadering met haar senior politieke raadgewers onttrek nadat sy gemaan is om te rus.

“Ná verdere evaluering vanoggend is die koningin se dokters bekommerd oor haar majesteit se gesondheid en het hulle aanbeveel dat sy onder mediese toesig bly,” lui Buckingham-paleis se verklaring.

“Die koningin is wel gemaklik en steeds by Balmoral,” het hulle bygevoeg.

Sy het Dinsdag egter die uittredende Britse premier, Boris Johnson, en sy opvolger, Liz Truss, by haar Skotse woning, Balmoral, ontvang om Truss in te huldig.

Dié ontmoeting was buitengewoon aangesien die sogenaamde “soen van die hande”-seremonie gewoonlik by Buckingham-paleis, nie ver van Downingstraat nie, in Londen plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Annelize ·

Einde van ‘n era. ‘n Vrou vir wie haar woord, belofte en toeweiding aan haar land nog waarde gedra het, ‘n voorbeeld vir duisende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.