Koningin Elizabeth II word 96

Die 96-jarige koningin Elizabeth vier hierdie jaar haar 70ste jaar op die troon. (Foto: Frank Augstein/AFP)

’n Geweersaluut het Donderdag in Engeland weerklink ter viering van koningin Elizabeth II se 96ste verjaarsdag.

Geweerskote is vanaf die Tower of London en Hyde Park in die Britse hoofstad afgevuur, waar ’n militêre orkes die Engelse weergawe van “Veels geluk met jou verjaarsdag” gaan speel.

Sedert die 18de eeu is die koninklike tradisie dat die monarg ’n tweede amptelike verjaardagsviering in ’n warmer maand, Junie, ook het.

Vanjaar se amptelike verjaarsdag sal saam met vier dae propvol openbare geleenthede van 2 tot 5 Junie gevier word om die koningin se rekordvernuwende 70ste jaar op die troon te gedenk.

Britse medialede het ook berig dat die koningin per helikopter van haar Windsor-kasteelwoning, wes van Londen, na haar Sandringham-landgoed in Oos-Engeland gevlieg het.

Daar sal sy tyd deurbring in die kothuis waar haar oorlede man, prins Philip, gewoon het nadat hy in 2017 uitgetree het as senior koninklike.

Dit was ’n uitdagende jaar vir die koninklike familie, met kommer oor die koningin se gesondheid en vrae oor die toekoms van die monargie.

Sedert die koningin ’n onbeplande oornagsessie in die hospitaal verlede Oktober gehad het, het sy die raad van haar dokters gevolg en grootliks uit die openbare oog gebly.

’n Rugkwaal en probleme om op te staan en te loop het daartoe gelei dat sy ’n aantal geleenthede, waaronder onlangse kerkdienste ter viering van Paasfees, gekanselleer het.

Die koningin se stryd teen Covid-19 in Februarie het haar baie “moeg en uitgeput” gelaat, het sy vroeër vandeesmaand aan dokters en pasiënte by die Royal London Hospital tydens ’n virtuele geleentheid gesê.

Haar kleinseun, Harry, het egter Woensdag tydens ’n onderhoud met die Amerikaanse uitsaaier, NBC, gesê dat sy “in goeie gesondheid” was toe hy haar verlede week gesien het.

Die koningin is op 29 Maart laas in die openbaar gesien in die Westminster-abdy in sentraal-Londen, tydens ’n gedenkdiens vir prins Philip, wat verlede jaar in die ouderdom van 99 gesterf het.

Gesondheid en opvolging

Die koningin se noodgedwonge uittrede uit die openbare lewe in haar Platinum-jubileumjaar het die aandag op die opvolging en die toekoms van die monargie vergroot.

Haar oudste seun en erfgenaam, prins Charles, het meer van sy ma se verantwoordelikhede aanvaar ter voorbereiding van die dag wat hy waarskynlik die troon sal moet oorneem.

Volgens ’n Ipsos-peiling onder meer as 2 000 volwassenes in Brittanje in Maart, het sy gewildheid oor die afgelope paar jaar toegeneem.

Sy goedkeuringsgradering van 43% is egter steeds ver agter sy ma se 69%, sy oudste seun se 64% of selfs sy skoondogter Kate se 60%.

Sowat 42% van diegene wat deelgeneem het aan die peiling, was ook van mening dat Charles (73) opsy moet staan vir sy seun, William, wat in Junie 40 word.

Afgesien van die vrae oor die koningin se gesondheid en haar opvolger, bly die koninklikes se gesigte steeds op talle koerantvoorblaaie pronk weens ’n rits skandale. Dit volg ná die koningin se tweede seun, prins Andrew, haar tydens prins Philip se gedenkdiens bygestaan het.

Hy het in Februarie in die VSA ’n siviele eis vir seksuele aanranding afgehandel. Die einste eis het daartoe gelei dat hy vroeër van sy koninklike militêre eretitels en liefdadigheidsrolle gestroop is.

Daar word gesê dat die paleis gereedmaak vir vars onthullings oor die koninklike lewe van Harry, wat sy memoir later vanjaar gaan publiseer.

Die voormalige Britse weermagkaptein het verlede jaar sy rol as senior koninklike agtergelaat en saam met sy Amerikaanse vrou, Meghan Markle, na Kalifornië verhuis.

Die egpaar het intussen die koninklike familie van rassisme beskuldig, terwyl Harry beweer het dat sy pa, Charles, en broer, William, binne die stelsel van die Britse monargie “vasgevang” is.

Die toekoms van die Britse monargie is egter nog lank nie verseker nie.

Die koningin is die staatshoof van Brittanje en 14 ander Statebond-lande.

Barbados het verlede jaar ’n republiek geword en ’n aantal ander Karibiese lande, waaronder Jamaika, het sedertdien aangedui dat hulle Barbados se voorbeeld wil volg wat beteken die Britse monargie se invloed kan dalk verder beperk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

De Villiers ·

Mag Haar Majesteit die Koningin Elizabeth II, ‘n heerlike verjaarsdag vier!

May10 ·

Baie geluk tannie, mag ek asseblief nooit so oud word nie. Ek wil nie so lank op hierdie aarde wees nie, ek het genoeg gesien, ek wil af,

Anel ·

Baie geluk aan my verjaarsdagmaatjie. Die dag toe ek gebore is, so ‘n entjie van die paleis af, het die dokter vir my ma gesê sy moet luister hoe vier hulle my geboorte met die kanonskote! En dan verjaar een van die mees bekendste mense in Suid Afrika ook vandag. Hy is vandag, 403 jaar gelede gebore en wel Jan van Riebeeck.

Misky ·

Baie geluk met jou verjaarsdag Anel. Hoop jy het ‘n heelike dag en word behoorlik bederf!!!

Pietertjie ·

Ek wonder wat het haar Covid behandeling behels, want dit blyk baie suksesvol te wees vir die uiters hoë risiko-profiel van 80+ ouderdomsgroep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.