Koningin hervat pligte ná Covid-diagnose

Koningin Elizabeth het haar pligte virtueel hervat. (Foto: Victoria Jones/Pool/AFP)

Koningin Elizabeth II het vandeesweek haar pligte digitaal hervat nadat sy verlede week afsprake moes kanselleer nadat sy Covid-19 opgedoen het.

Kommer oor die 95-jarige monarg se gesondheid het die afgelope tyd toegeneem nadat sy verlede jaar in ʼn hospitaal opgeneem is vir ongespesifiseerde toetse en meer onlangs toe sy positief vir Covid-19 getoets het.

Prins Charles, die koningin se oudste seun en troonopvolger, het op 10 Februarie positief getoets, twee dae nadat hy met die monarg by die Windsor-kasteel byeengekom het.

Die paleis het in ʼn verklaring gesê die koningin het genoegsaam herstel om geleenthede digitaal by te woon. Sy het die nuwe ambassadeurs van Andorra en Tsjad digitaal by Buckingham-paleis ontvang.

Die koningin het verlede week soortgelyke afsprake met nuwe ambassadeurs gekanselleer, aangesien sy matige Covid-19-simptome ondervind het.

ʼn Diplomatieke onthaal wat die koningin Woensdag sou bywoon, is op aanbeveling van Liz Truss, minister van buitelandse sake, gekanselleer weens die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne.

Die monarg is die afgelope ruk gedwing om haar werkslading te verminder nadat sy verlede jaar ʼn dag in die hospitaal moes deurbring.

Sy is sedertdien veel minder in die openbaar gesien en verskeie senior lede van die koninklike familie het sommige van haar pligte begin oorneem.

Die monarg se kleinseun, prins William, en sy vrou, Catherine, sal in die komende weke agt van die 14 Statebondlande buite Brittanje besoek waar Elizabeth II ook koningin en staatshoof is.

Hulle sal na verwagting na Belize, Jamaika en die Bahamas reis.

Die koningin het verlede maand – net voordat sy Covid-19 opgedoen het – die eerste monarg in die Britse geskiedenis geword wat 70 jaar lank regeer.

Sy het die geskiedkundige dag by Sandringham, haar landgoed in Oos-Engeland en waar haar pa gesterf het, gevier.

Die geleentheid sal vroeg in Junie in die openbaar gevier word.

Die platinum-jubileumviering is egter oorskadu deur die koningin se tweede seun, prins Andrew, wat in ʼn Amerikaanse siviele saak vir seksuele aanranding ʼn skikking met die klaers bereik het.

Prins Charles is ook intussen onder die soeklig nadat die polisie in Londen ʼn ondersoek van stapel gestuur het waarby een van die prins se liefdadigheidsorganisasies betrek word.

Bewerings doen die ronde dat die betrokke organisasie ʼn koninklike eerbewys en selfs Britse burgerskap aan ʼn sakeman van Saoedi-Arabië belowe het in ruil vir groot bedrae geld wat aan die organisasie se restourasieprojekte geskenk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.