Koningin kanselleer afsprake oor Covid

Die 95-jarige koningin Elizabeth het onlangs haar 70ste jaar op die troon gevier. (Foto: Frank Augstein/AFP)

Koningin Elizabeth II het haar beplande virtuele afsprake vir Dinsdag weens “matige” Covid-19-simptome gekanselleer.

’n Woordvoerder van Buckingham-paleis sê die 95-jarige koningin se besluit is deur effense verkouesimptome genoop. Sy sal wel met ander “ligte pligte” voortgaan.

Maroela Media het vroeër berig dat die staatshoof Sondag positief vir die koronavirus getoets het – twee weke ná sy 70 jaar op die troon gevier het.

Dit het hernude kommer oor haar gesondheid laat ontstaan ​nadat sy in Oktober verlede jaar ’n nag in die hospitaal deurgebring het.

Sy is gedurende dié tydperk gedwing om op mediese gronde te rus en het ’n reeks beplande verbintenisse gekanselleer, waaronder haar besoek aan die COP26-klimaatberaad in Skotland.

Sedertdien het sy min in die openbaar verskyn, hoewel sy haar openbare pligte voor die aanvang van haar 70ste jaar as monarg op 6 Februarie hervat het.

Die koningin sal later in die week meer virtuele vergaderings hou, waaronder haar weeklikse privaat gespreksessie met premier Boris Johnson.

Haar siekte is bekend gemaak die dag voordat Johnson aangekondig het dat alle wetlike Covid-19-verwante regulasies in Engeland later daardie week tot ’n einde sou kom.

Die monarg – wat vermoedelik drievoudig ingeënt is – het verlede week persoonlik gehore by haar Windsor Castle-huis wes van Londen toegespreek.

Sy het aan een persoon gebieg dat sy baie “styf” voel en is afgeneem terwyl sy ’n kierie vashou.

Haar oudste seun en erfgenaam, prins Charles (73), moes hom op 10 Februarie aan ’n beplande afspraak onttrek nadat sy ma vir ’n tweede keer positief getoets het vir Covid-19. Dit het later aan die lig gekom dat hy twee dae tevore kontak met sy ma gehad het.

Die koningin en haar man, prins Philip, het in Maart 2020 met die aanvang van die pandemie na Windsor verhuis, gegewe die risiko’s om die koronavirus op hul hoë ouderdom op te doen.

Sy het egter steeds openbare verskynings voortgesit, op videokonferensie-oproepe met lede van die publiek verskyn, en die nasie in ’n skaars televisietoespraak tydens die inperking toegespreek en aangemoedig om nie moed te verloor nie.

Philip, haar man van 73 jaar, is in April 2021 dood, net ’n paar weke voor sy 100ste verjaardag. Sy begrafnis het plaasgevind onder beperkings wat roubeklaers tot net 30 beperk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Al die bohaai oor ‘n verkoue en inentings, isolasie, maskers, santasie en wat ookal uitgebewe word wat nie werk nie. Ons bly in ‘n gekke paradys !!!

philippus

Julle sin oor prins Charles maak nie sin nie. Stel reg. Koningin het nie 2de keer Corona nie

Vonkprop

Wie gee om. Die koninklikes is ou nuus. Hulle familie is so deurmekaar dat myne soos ‘n sprokie lyk.

piet

Dis amper alweer ‘n jaar sedert Prins Phillip se dood. Waarheen vlieg die tyd?

JM

Koningin Elizabeth is ‘n merkwaardige mens. Die bitterbekke kan gerus hul kommentaar vir hulself hou!