Koningin mis Paasdiens

Koningin en Prins Andrew

Koningin Elizabeth II en haar seun, prins Andrew. (Foto: Richard Pohle/POOL/AFP)

Koningin Elizabeth het nie Sondag haar geliefdes tydens die gebruiklike Paasdiens by Windsor-kasteel óf Vrydag die jaarlikse Maundy Day-geloofsbyeenkoms (Wit Donderdag, ook bekend as Dag van die Voetwassing) by Buckingham-paleis bygewoon nie. Dit is die eerste keer in 50 jaar wat sy dié byeenkoms misloop.

Dit is die mees onlangse van ʼn rits openbare byeenkomste wat die koningin gekanselleer het, sedert sy in Oktober ʼn aand in die hospitaal deurgebring het. Die monarg word later vandeesmaand 96 jaar oud en is reeds ʼn rekordgetal van 70 jaar op die troon.

Die koningin het onlangs erken sy voel “uiters uitgeput” nadat Covid-19 in Februarie by haar gediagnoseer is. Die Buckingham-paleis het destyds gesê sy ervaar slegs matige verkoue-simptome, maar sy het Woensdag aan hospitaalpersoneel tydens die opening van ʼn nuwe eenheid by die Royal London Hospital erken dat sy baie moeg en uitgeput is sedert haar herstel. “Dit is ʼn aaklige pandemie dié,” het sy gesê.

Gerugte doen die ronde dat die koningin sukkel om te loop en agter geslote deure van ʼn rolstoel gebruik maak.

Prins Harry en sy vrou Meghan het Donderdag ʼn draai by sy ouma in die Windsor-kasteel gemaak. Hul kinders, Archie (2) en Lilibet (10 maande), was egter nie by nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.