Koningin nie by parlement se opening

Koningin Elizabeth II. (Foto: Toby Melville/Pool via AP)

Prins Charles sal Dinsdag namens sy 96-jarige ma, koningin Elizabeth II, die seremoniële opening van die Britse parlement bywoon. Die monarg moet noodgedwonge die opening misloop, weens haar voortslepende beweeglikheidskwessies.

“Die koningin ervaar steeds uitdagings met beweeglikheid en het in oorleg met haar dokters teësinnig besluit dat sy nie die staatsopening van die parlement sal bywoon nie,” het die paleis in ʼn verklaring gesê.

Op versoek van die koningin en met die toestemming van die betrokke owerhede sal haar oudste seun en troonopvolger, Charles, haar toespraak by die geleentheid voorlees.

Die paleis het bygevoeg dat die koningin se oudste kleinseun, prins William, die hertog van Cambridge wat naas sy pa ʼn moontlike troonopvolger is, ook die uitgebreide staatsopening van die parlement sal bywoon.

As staatshoof is die koningin gewoonlik teenwoordig by dié jaarlikse geleentheid waar sy die Britse regering se wetgewende program in ʼn toespraak vanaf ʼn vergulde troon in die Hoërhuis lees.

Die Buckingham-paleis het egter tot vandeesweek nie die monarg se bywoning in aanloop tot vanjaar se geleentheid bevestig nie, totdat dit eindelik aangekondig is dat sy dit inderdaad nie sal kan bywoon nie.

Sy het slegs twee staatsopenings tydens haar 70 jaar aan bewind misgeloop – in 1959 en 1963 toe sy onderskeidelik swanger was met prins Andrew en met prins Edward.

Die monarg is deesdae selde in die openbaar te sien sedert sy in Oktober verlede jaar ʼn onbeplande aand in die hospitaal deurgebring het en later Covid-19 onder lede gehad het.

Koningin Elizabeth het boonop talle openbare geleenthede die afgelope paar maande van die hand gewys, en die paleis het verlede week aangekondig dat sy nie die koninklike tuinpartytjies in die somer gaan bywoon nie.

Die monarg het onlangs na die Windsor-kasteel teruggekeer ná ʼn week lange wegbreek vir haar 96ste verjaarsdag op haar Sandringham-landgoed in Norfolk, Oos-Engeland.

Sedert die 18de eeu vereis die koninklike tradisie dat die monarg ʼn tweede, amptelike verjaarsdag in die somermaande in die openbaar vier. Vanjaar se amptelike verjaarsdag sal saam met koningin Elizabeth se Platinum Jubilee gevier word, wat sal sorg vir vier dae van openbare geleenthede, van 2 tot 5 Junie, om haar 70 jaar op die troon te herdenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Dit is tyd om uit te tree en die kroon te oorhandig.

domheks

enige iemand – behalwe ou charles asseblief!

melaney

Nou verlang ek darem erg na Diana. Om te dink Charles en die ander vrou sal die troon opvolg. Om van te huil. Maar nouja, ek is nie ingels nie.

JM

Koningin Elizabeth is ‘n merkwaardige vrou met vaste heginsels.

Jacques

Wie’s die tannie in die blou hoed,en wat het sy te make met die welstand van die gewone Suid-Afrikaanse burger?

Moet ons nog steeds na 60 jaar op hierdie manier in die media eer betoon aan ‘n koningshuis wat ons erg te na gekom het?

Wat het daardie mense met óns wel en weë uit te waai vandag?