Koningin sê ‘nee dankie’ vir toekenning vir oues

Koningin Elizabeth II met haar amptelike verjaarsdagvieringe in Junie vanjaar. (Foto: The Royal Family/Twitter)

Koningin Elizabeth II, wat vroeër vanjaar haar 95ste verjaardag gevier het, is “nog veels te jonk van gees” en daarom het sy hoflik – en effens tong in die kies –  die Oldie of the Year-toekenning deur die Britse tydskrif The Oldie van die hand gewys.

The Oldie is ʼn bekende Britse tydskrif, met die ouer garde as teikenmark, wat maandeliks uitgegee word en dien “as ʼn lighartige alternatief vir ʼn media wat behep is met jeugdigheid en bekendheid,” lui die tydskrif se webwerf.

Die afgelope 29 jaar vereer die tydskrif ʼn ouer Britse bekende met ʼn Oldie of the Year-toekenning – vorige wenners was onder andere Eileen Atkins, Glenda Jackson, Peter Blake en David Hockney.

“Haar koninklike hoogheid glo jy is so oud soos jy voel, en daarom glo die koningin dat sy nie aan die relevante kriteria voldoen om dié toekenning te aanvaar nie en hoop dat julle ʼn verdienstelike ontvanger sal vind,” het Tom Laing-Baker, die koningin se assistentprivaatsekretaris, in ʼn brief gesê wat Dinsdag deur die tydskrif gedeel is.

The Oldie het duidelik ʼn sagte plekkie vir die koninklike familie. In 2012 is die koningin se ontslape eggenoot, prins Phillip, wat in April vanjaar in die ouderdom van 99 oorlede is, as Consort of the Year aangewys.

Hy het die toekenning hartlik aanvaar. “Daar is niks beter vir die moraal as om herinner te word aan die jare wat verbygaan nie – al gaan dit elke jaar vinniger – maar dit is lekker om enigsins onthou te word,” het die prins destyds geskryf.

Die koningin, wie se ma in 2002 in die ouderdom van 101 oorlede is, sal in 2022 ʼn verstommende 70 jaar op die Britse troon met ʼn platinumjubileum vier.

Bron: Page Six

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karinb ·

Inderdaad Samuel, ek stem saam met jou. Ek het die grootste respek vir hierdie Dame en volg graag nuusberigte oor haar. Mag sy nog vir baie jare regeer.

Waarnemer ·

“Lank sal sy lewe,lank sal sy lewe in haar gloria,in haar gloria.”

Charl ·

‘n Klap in die gesig vir hierdie mense wat dit goedgedink het om haar op so ‘n wyse te vereer, dieselfde mense wat die Britse koningshuis vir jare ondersteun. Die ouvrou is 95jr oud, hoe jonk wil jy wees !! Tipiese koninklike snobisme, is mos benede haar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.