Koningin toets positief vir Covid-19

Koningin Elizabeth II (Foto: Paul Edwards/AFP)

Brittanje se 95-jarige koningin Elizabeth II het Sondag positief getoets vir Covid-19 – twee weke ná sy 70 jaar op die troon gevier het. Sy het slegs matige simptome.

Prins Charles, die koningin se oudste seun en troonopvolger, het op 10 Februarie positief getoets, twee dae ná hy sy ma by Windsor-kasteel gesien het.

Daar is nie enige inligting of die koningin in daardie stadium ook Covid-toetse ondergaan het nie.

Sy het verlede week persoonlik gaste by die kasteel ontvang, en het aan een van die persone teenwoordig gesê sy sukkel met “styfheid” en sy het met ʼn kierie geloop.

“Buckingham-paleis bevestig die koningin het vandag positief getoets vir Covid,” lui ʼn verklaring van die paleis. “Haar Majesteit het matige verkoue-tipe simptome maar sal na verwagting deur die loop van die week steeds pligte uitvoer by Windsor. Sy ontvang deurgaans mediese ondersoeke en sal alle behoorlike riglyne volg.”

Alhoewel die paleis gewoonlik geheimsinnig is oor die koningin se gesondheid, is daar vroeër bevestig dat sy drie Covid-19-inentings ontvang het.

Brittanje se persvereniging het gesê daar is ʼn paar gevalle wat ook bevestig is onder die span by Windsor-kasteel.

Eerste minister Boris Johnson het op Twitter geskryf: “Ek is seker ek praat namens almal om Haar Majesteit ʼn spoedige herstel toe te wens.”

Landswye feeste om die koningin se 70 jaar op die troon te vier sal na verwagting in Junie plaasvind.

Die Covid-gevalle kom te midde van skandale vir die koninklike familie. Die koningin se tweede seun, prins Andrew, het verlede week ʼn siviele saak van seksuele aanranding in die VSA geskik, na bewering vir £12 miljoen (sowat R246,5 miljoen). Volgens die media sal die koningin gedeeltelik hiertoe bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.