Konserwatiewe vier fees – Arbeiders platgeslaan

David Cameron. Foto: Facebook

David Cameron. Foto: Facebook

’n Peiling kort voor gister se algemene verkiesing in Brittanje het, anders as die voriges, aangedui dat die regerende Konserwatiewe Party maklik die verkiesing sou wen.

Die uitslae tot dusver dui ook daarop, hoewel premier David Cameron nog nie ’n verkiesingsoorwinning opgeëis het nie.

Die kanse lyk goed dat die Konserwatiewe Party die land sonder ’n koalisievennoot sal kan regeer – gelukkig ook vir die party omdat sy huidige koalisievennoot, die Liberaal-demokrate, erg uit die bus getuimel het.

Die Arbeidersparty het veral in Skotland sy rieme teen die Skotse Nasionale Party (SNP) vasgeloop. Hoewel die twee partye se beleidstellings baie dieselfde is, het die Arbeiderleier, Ed Miliband, die moontlikheid van ’n koalisie met die SNP uitgesluit. Dit is moontlik dat die SNP al die Arbeidersetels in Skotland kan afneem. Sommer vroeg het een van die Arbeiders se vernaamste strateë, Douglas Alexander wat ook skaduminister van buitelandse sake was, slae by die 20-jarige student van die SNP, Mhairi Black, gely. Sy sal nou die jongste Britse parlementslid sedert die 17de eeu wees.

Volgens die jongste voorspelling gaan die Konserwatiewe Party 329 setels inpalm, die Arbeiders 233, die SNP 56, die LibDems 8 en die UKip 2. UKip, ’n uiters regse party, het met die laaste verkiesing vir die Europese parlement verras deur baie goed te vaar.

As die Konserwatiewe Party inderdaad die knoop deurhak, sal Brittanje volgens belofte voor die einde van die jaar aan ’n referendum deelneem oor voortgesette lidmaatskap van die Europese Unie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jacques ·

Maak elkgeval nie saak wie wen nie hulle gaan elkgeval deur die selfde biljoeners regeer word.

Eugene ·

Hierdie was vir my die interessantste Verenigde Koningkryk (VK) verkiesing ooit. Ek moet eerstens noem dat as ek ‘n VK burger was, sou ek UKIP gestem het. UKIP is nie ‘n ‘uiters regse’ party soos in die artikel voorgehou word nie. Hulle staan byvoorbeeld vir onafhanklikheid, selfregering en streng beheerde immigrasie. Hulle het net oor die 3.8 miljoen stemme gekry, wat hulle die derde grootste party in die VK maak – dit is glad nie klein nie. Ongelukkig, weens die aard van die kiesafdelings, kon hulle net in een afdeling ‘n meerderheid kry en dus het hulle net 1 setel.

‘n Ander interessantigheid oor hierdie verkiesing is dat ‘n voormalige Suid Afrikaner, Jack Sen, as ‘n UKIP lid gestaan het in een van die kiesafdelings. Hy ‘n op ‘n twee weke skorsing oor hy dinge wat hy getwiet het. Hy het egter nog steeds deelgeneem aan die verkiesing en derde gekom met 12.2% van die stemme in Lancashire West. Volg hom op Twitter by @jacksenukip

Neptunus ·

As UKIP ‘n uiters regse party is, dan is die Arbeidersparty seker die uiters linkse party in die Britse partypolitieke spektrum. En dis presies waarom hulle pakslae gekry het. Gaan Google gerus “Miliband Slovo”. Ed Miliband se broer David is op rekord dat Joe Slovo sy groot held is. Hulle pa en Joe Slovo was groot maats, en beide geswore Kommuniste met Joodse wortels in Oos-Europa.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.