Kontak met Indonesiese vliegtuig oor Java-see verloor

(Foto: Demy Sanjaya / AFP)

Daar word gevrees dat ’n passasiersvliegtuig van ’n Indonesiese laekoste-lugredery in die see neergestort het nadat dit Saterdag kontak met die beheertoring verloor het.

Vlugopsporingsdata toon dat die vliegtuig enkele minute nadat dit in Djakarta opgestyg het, in ʼn steil duik gesak het voordat daar kontak met die vliegtuig verloor is.

Altesaam 62 passasiers en bemanning was vermoedelik aan boord Sriwijaya Air se Boeing 737-500 toe dit by Djakarta se Soekarno-Hatta Internasionale Lughawe opgestyg het.

Die vliegtuig was onderweg na die stad Pontianak op die eiland Borneo. Die gemiddelde vlugtyd oor die Java-see tussen Indonesië se belangrikste Java-eiland en Kalimantan, die Indonesiese deel van Borneo-eiland, is ongeveer 90 minute.

(Photo by Adek BERRY / AFP)

Data van die opsporingsagentskap FlightRadar24 toon die vliegtuig het ʼn hoogte van byna 3 350 meter (11 000 voet) bereik voordat dit tot 250 voet gedaal het. Die vliegtuig het daarna kontak met die beheertoring verloor.

“Sriwijaya Air se vlug #SJ182 het in minder as ʼn minuut meer as 10 000 voet hoogte verloor, ongeveer vier minute ná sy vertrek uit Djakarta,” het die opsporingsagentskap op Twitter gesê.

Die Indonesiese ministerie van vervoer het intussen gesê hulle stel ondersoek in.

Maroela Media het vroeër berig ʼn Boeing 737-passasiersvliegtuig van die Indonesiese redery Lion Air het in 2018 in die Java-see met ongeveer 189 mense aan boord neergestort kort nadat dit in Djakarta opgestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.