Koronavirus: Al meer gevalle in dié lande aangemeld

Mense loop Vrydag met maskers in Beijing, (Foto: Mark Schiefelbein, AP)

Suid-Korea het nou strenger maatreëls getref om die dodelike koronavirus, oftewel Covid-19, hok te slaan nadat die getal bevestigde gevalle vir die tweede agtereenvolgende dag in dié land skerp toegeneem het.

Suid-Korea het Vrydag 52 nuwe bevestigde gevalle aangemeld. 53 nuwe gevalle is Donderdag aangemeld.

Chung Sye-kyun, die land se eerste minister, beskryf dié verwikkeling as ʼn  “noodsituasie” en die stede Daegu en Cheongdo in die suide van die land is selfs nou tot “spesiale sones” verklaar.

Die land het intussen ook sy weermag gesluit nadat verskeie soldate positief vir Covid-19 getoets het.

Die land het nou altesaam 156 bevestigde gevalle, die meeste van enige land anders as China en die Diamond Princess-skip wat in ’n hawe in Jokohama in Japan vasgemeer is.

China het in die afgelope 24 uur 889 bevestigde gevalle aangemeld, wat die aantal bevestigde gevalle in dié land op 75 465 te staan bring. Nog 118 mense het intussen aan die virus omgekom en die dodetal staan nou op 2 236. Die land is wel optimisties, aangesien die gental nuwe gevalle vandeesweek afgeneem het.

Minstens 621 passasiers van die Diamond Princess het positief vir die virus getoets en twee passasiers is vandeesweek aan die virus dood. Passasiers wat negatief vir die virus getoets het, het vandeesweek een-een voet aan wal gesit ná 14 dae in kwarantyn.

Mense kyk toe soos hulel bus met klippe in Kharkiv in Oekraïne bestook word. (Foto: Efrem Lukatsky)

Covid-19 in Europa

Tientalle betogers in Oekraïne het Donderdag busse met 45 Oekraïners en 27 buitelandse burgers met klippe bestook nadat hulle per vliegtuig van Wuhan in Kharkiv in die ooste van die land aangekom het.

Dié mense is na ʼn hospitaal in Novi Sanzhary in die sentrale Poltava-streek geneem, waar hulle 14 dae lank in kwarantyn gehou sal word.

Pres. Wolodimir Zelenski het die betogers gevra om empatie te betoon.

Sowat 1 000 gevalle en verskeie sterftes weens Covid-19 is in die res van Asië, in Europa, die VSA en Afrika aangemeld.

Die polisie pak betogers ná die voorval in Oekraïne. (Foto: Efrem Lukatsky, AP)

Covid-19 in Afrika

Angola het vandeesweek 50 mense ontslaan wat in die Barra do Kwanza-sentrum in Luanda in kwarantyn geplaas is nadat hulle van China dié land binnegekom het.

Altesaam 13 Angolese, 36 Chinese en een Brasilaan is Woensdag ontslaan terwyl 14 ander nog in kwarantyn bly.

Geen gevalle is nog in Suid-Afrika aangemeld nie.

Bronne: BBC, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mienks ·

Natuurlik sal Suid afrika geen gevalle noem nie, dis soos die plaas moorde. Ons is nie voor bereid om so iets te hanteer nie siende dat ons hospitale en klinieke in verval is of daar is nie die nodige personeel met die regte opleiding om so iets te kan hanteer nie.

Christo ·

Dit moet erg wees in daardie lande. Dink net aan die mense wat 14 dae in ‘n klein kajuit op die skip moes bly. Ons het steeds baie om voor dankbaar te wees, maar die toestand in SA is glad nie gesond nie.

Michael ·

Daar word elke dag boere en hul gesinne aangeval in sa die President dra geen kennis daarvan nie daar is miskien al duisende gevalle in die land wat die virus het maar die goeie dokters het geëmigreer en die meerderheid dokters in die land gemeet aan die 30% slaagsyfer behandel dit heel moontlik as bo lug weg ontsteking of blindederm ontsteking wie weer.

Erik ·

Michael, ons almal is negatief, maar jou insig is skokkend. Byna niks van wat jy noem maak sin nie! Daar word nie elke dag boere vermoor nie (daar word wel elke dag meer as 50 mense vermoor in die land, waarvan dit meestal geen boere is nie) en niemand mag medies swot indien hul geslaag het met 30% nie. Ek veroordeel plaasmoorde ten sterkste en stem dis heeltemal te veel, daar moet geen moorde wees nie, maar jou statistieke is nie lekker nie.

Michael ·

Erik,beide my kinders het gematrikuleer met n gemiddeld van 80 %,weens kwotas gebaseer op ras was hulle aangesê om n Bsc kursus te doen vir hulle eerste jaar en kon hulle tweede jaar medies doen,dit is eerstens diskriminerend want dit is gebaseer op ras en tweedens het sa n tekort aan dokters en word hulle gewerf in Cuba en Nigerië. Die eerste jaar mediese studente val twee derdes uit omrede hulle nie reg gekeur was nie en die 30% waarvan ek praat is die suid afrikaanse kurrikulum slaagvereistes.My kinders is vandag opgeleide spesialiste in die VSA en weier om hulle voete in die piesang republiek te sit.Die boere wat vermoor word is volgens Afriforum statistieke en nie die regering sin nie.My twee kinders het weens die onregverdige behandeling in die VSA gestudeer en intussen burgerskap bekom.

Erik ·

Ek hoor jou. Afriforum se statistieke het ook nie naastenby bewys dat daar elke dag plaasmoorde is nie. Weereens, plaasmoorde is gruwelik en ek veroordeel dit. Elke lewe is kosbaar. Hoekom kla Afrikaners nooit oor die 57 swart mense wat elke dg vermoor word nie? Ek wil ook landuit – veral met my twee jong klein seuntjies.

Lize ·

Ek is ‘n Engelse onderwyseres by ‘n publieke skool in Suid Korea. Hier is nie 159 gevalle nie, maar 204.

Oor die algemeen gaan mense maar met hulle normale manier van dinge doen aan, maar ons hou die amptelike webtuistes gereeld dop vir enige verwikkelinge in getal en in area. Hulle is darem baie pro aktief hierso.

Meeste mense dra maskers en ons word heeltyd aangemoedig om ons hande te was en gereeld “hand steriliseerder “ te gebruik en plekke te vermy waar daar baie mense bymekaar is.

Sommige mense wat oorsee gereis het (al was dit nie na China toe nie ) word versoek om hulleself onder 14 dae “self kwarantyn” te plaas as voorsorgmaatreël. Verder kry jy ‘n Boodskap op jou foon as daar in jou area iemand is wat positief vir die Corona Virus of te wel covid-19 getoets is.

As jy enige van die simptome het, is daar ‘n nommer wat jy kan skakel en dan sal hulle verniet vir jou toetse reël by ‘n hospitaal.

Die positiewe is die verbeterde higiëne in die land. ;)

Stof ·

Daar is verskeie intersessors van verskillende groeperinge wat reeds intree vir Vader se direkte ingrype in die skadeloosstelling van hierdie virus.
As enkelinge kan ons weining doen. Maar as ons opreg verootmoedig voor Hoër Gesag, hoef Hy net ‘n woord te spreek, en Sy woord sal wees.
Wie stem saam voor Vader?

En dan so ‘n nagedagte: Nadat ek vandag saam met Roelf in sy Corona gery het, voel ek nog heel wel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.