Koronavirus: Al meer in Europa word siek

Mense sit Woensdag met maskers op ‘n trem in Milaan, Italië. (Foto: Claudio Furlan/LaPresse via AP)

Meer as 400 bevestigde gevalle van die gevreesde koronavirus, oftewel Covid-19, is nou in Italië aangemeld nadat dié syfer binne 24 uur met 25% gestyg het.

Die noorde van Italië gaan veral gebuk onder die virus wat dreig om in ’n pandemie te ontaard met 12 mense wat reeds in dié land aan die virus dood is. Lombardye, die streek rondom Milaan, en Veneto naby Venesië word veral geraak.

Altesaam 11 Italiaanse dorpe met ’n totaal van 55 000 inwoners is intussen in kwarantyn geplaas. Skole, universiteite en teaters is gesluit en verskeie openbare geleenthede is vandeesweek gekanselleer. Daar word nou gevrees dat die uitbreek tot ʼn ekonomiese resessie in Italië kan lei.

‘n Vrou loop Woensdag verby ‘n winkel in Milaan, Italië. (Foto: Claudio Furlan/LaPresse via AP)

Al meer gevalle word by die dag in Europese lande aangemeld. Die eerste gevalle is Donderdag in Denemarke aangemeld. ’n Man het positief vir die gevreesde virus getoets ná ’n ski-vakansie in die noorde van Italië.

Roemenië het intussen ook sy eerste geval van Covid-19 bevestig. Die pasiënt was in kontak met ’n Italiaanse burger. Kroasië, Oostenryk en Brasilië het ook hul eerste gevalle aangemeld.

Talle skole is sedertdien in Engeland gesluit as ’n veiligheidsmaatreël. ’n Skool in Cheshire in die noordweste van Engeland het ’n afdeling van sy skool tydelik gesluit nadat leerders en personeel ná ’n ski-uitstappie in die Lombardye-omgewing in Italië teruggekeer het.

Mense Woensdag by die Galleria Vittorio Emanuele II in Milaan. (Foto: Claudio Furlan/LaPresse via AP)

Byna 2 800 mense is dood met meer as 80 000 bevestigde gevalle in sowat 40 lande aangemeld sedert Covid-19 in Desember kop uitgesteek het. Die oorgrote meerderheid gevalle is steeds in China, waar die eerste geval aangemeld is. Sowat 78 000 gevalle is sedertdien in China aangemeld met sowat 2 715 sterftes.

Buiten China het Iran die grootste getal sterftes aangemeld –  19 sterftes met 139 bevestigde gevalle. Geen gevalle is tot dusver in Suid-Afrika aangemeld nie.

Lande buiten China teen Woensdag geraak deur Covid-19

(Gevalle:Sterftes)
Republiek van Korea (1 261:12)
Japan (164:1)
Singapoer (9)
Australië (23)
Maleisië (22)
Viëtnam (16)
Filippyne (3:1)
Kambodja (1)
Thailand (40)
Indië (3)
Nepal (1)
Sri Lanka (1)
Amerika (53)
Kanada (10)
Italië (322:11)
Duitsland (18)
Verenigde Koninkryk (13)
Frankryk (12:1)
Oostenryk (2)
Kroasië (2)
Israel (2)
Russiese Federasie (2)
Spanje (2)
België (1)
Finland (1)
Swede (1)
Switserland (1)
Iran (95:15)
Bahrain (26)
Verenigde Arabiese Emirate (13)
Koeweit (12)
Irak (5)
Oman (4)
Afganistan (1)
Egipte (1)
Libanon (1) en
Algerië (1)

Bronne: BBC, Independent, Aljazeera, WHO

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johan Venter ·

En dan sien ek dit word sedert eergister op Netwerk24, en ander webwerwe, bevestig die Sjinese regering het Maandag ’n algehele verbod geplaas op die onwettige handel in wild en die eet van wilde diere.

ogies1 ·

Kan nie glo dat hulle se dat die virus nog nie in Suid Afrika is nie…..

Anoniem ·

Met ons gebrekkige gesondheid stelsel en liegende owerhede glo ek dis alreeds hier, nog net nie op groot skaal nie en word waarskynlik toegesmeer. Ek verwag dat die bom eersdaags gaan bars.

Anoniem ·

Ek is bevrees dat wanneer (nie indien nie) die virus SA tref, gaan dit die land tot algehele stilstand bring. Dink net wat die gevolge gaan wees indien1 mens vanuit ‘n plakkerskamp bv die virus opdoen, hoe dit gaan versprei. Nie net in die plakkerskampe nie, maar ook in taxis, busse, treine asook huishoudings. Die gebrekkige hospitale sal dit nie kan stop nie en miljoene gaan sterf, duisend keer groter as enige vorige epidemie wat die land nog ooit gesien het.

Dit gaan die land in geheel verwoes, want huis en tuinwerkers se dienste sal dadelik opgeskort word, dus geen bron van inkomste of kos op die tafel nie. Hospitale en alle openbare plekke sal vermy word en gemeenskappe sal hulself isoleer, niemand in en niemand uit nie. Apocalypse SA.

Dalk was Siener van Rensburg se voorspellings dalk nie heeltemal verkeerd nie….

NetM ·

Ek wil regtig nie die “stem saam” knoppie druk nie. Maar ek dink jy is reg Manie.

katerinadiekat ·

Ingeval dit so gebeur, is dit die beste om nou al te begin kos opgaar soos blikkies kos, pasta, rys ens. En water. Dit klink nou wel soos n apokaliptiese scenio. Maar miskien is so n gebeurtenis al ding wat die land kan red op die lang termyn.

James ·

Ek sit my kop op ‘n blok: Hy’s klaar hier. Lankal al….

Pieter ·

Vreemd hoe die virus op sekere plekke sy kop uitsteek. Eers China en nou Italië. Skep die idee dat iemand dit daar saai. Vanaf hierdie lande word die omgewing aangesteek.

Leon ·

Dink aan God se hand wat vir ons ‘n boodskap probeer stuur.
Ek dink hulle sal alle grense moet sluit. Lughawens toemaak. Hawens toemaak. GEEN verkeer en in- en uitvoere na alle lande. Die wereld se ekonomie sal tot stilstand kom. Ek dink dit is wat sal moet gebeur. Die HIV virus het nie sy werk gedoen nie. Miskien is dit die virus wat die wereld moet regruk. Wie weet.
Miskien is die virus die oorsaak van ‘n wereldoorlog.
Hier kom ‘n ding.

katerinadiekat ·

Baie baie snaaks dat daar nog nie gevalle in Suid Afrika is nie. Hier is heelwat Chinese in hierdie land, hulle moet tog soms tussen China en SA reis, of familie he wat kom kuier? BAIE vreemd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.