Koronavirus: Ambassade sê oor SA’ners in China

‘n Gesin met gesigmaskers loop met hul bagasie in die Hankou-treinstasie in Wuhan in die Hubei-provinsie in die suide van China. Foto: (Chinatopix via AP)

Die Chinese ambassade in Suid-Afrika het Vrydag gesê ouers van Suid-Afrikaanse studente wat in China studeer, veral in Wuhan, is besorg oor die uitbreking van die koronavirus in die land en nog meer bekommerd dat die epidemie na Suid-Afrika sal oorspoel.

“Ons het ten volle begrip vir ouers se kommer en ons hoop dat vriende van Suid-Afrika en ander lande vertroue sal hê in die Chinese regering en mense wat alles in hul vermoë doen om die gesondheid en veiligheid van elke uitlander, veral internasionale studente, in China te verseker,” het die ambassade in ʼn verklaring gesê.

Volgens die ambassade het die Wuhan-munisipaliteit, waar die eerste geval aangemeld is, baie streng ingang- en uitgangskontroles in werking gestel. Openbare vervoer van en na Wuhan is tydelik opgeskort.

Minstens 13 stede het aangekondig dat hulle trein- en langafstand busdienste opskort, ondanks die feit dat honderd duisende mense beplan het om na hul tuisdorpe te reis vir die Chinese Nuwejaar, wat hierdie naweek begin. Ongeveer 43 miljoen persone in Chinese stede word geraak deur die reisverbod.

“Vriende van Suid-Afrika word versoek om nie in hierdie stadium Wuhan te besoek nie en Suid-Afrikaners wat tans in Wuhan is, moet nie nou die stad verlaat of na Suid-Afrika terugkeer nie.”

Die ambassade het gesê toegewyde en rugsteunhospitale is beskikbaar vir die behandeling van longontsteking wat deur die koronavirus veroorsaak word. “As daar ʼn vermoede bestaan dat iemand siek is, moet die persoon die plaaslike hospitaal so vinnig as moontlik kontak om behandeling te ontvang.”

Die ministerie van onderwys in China het ook reeds geëis dat sy departement dadelik noodreaksieplanne van stapel moet stuur en maatreëls moet instel om die gesondheid van internasionale studente, insluitend Suid-Afrikaanse studente, te verseker.

“Ons hoop dat ouers die Suid-Afrikaanse studente kan aanraai om met die universiteit saam te werk en streng by die reëls te hou om die epidemie te verhoed en te beheer.”

Maroela Media het vroeër berig minstens 26 mense is reeds dood met sowat 830 gevalle aangemeld. Dié dodetal styg daagliks.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Donderdag daarteen besluit om die uitbreking tot ʼn wêreldwye noodtoestand te verklaar, deels weens die lae getal oorsese gevalle. Dié getal staan tans op 13.

“Dit kan nog ’n noodtoestand word,” het dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, die WGO se direkteur-generaal, gesê.

Besoek die amptelike webwerf van die Chinese gesondheidsowerheid om op hoogte te bly van die situasie. Indien Suid-Afrikaners bewus is van ʼn geval kan die Chinese ambassade in Suid-Afrika gekontak word by 012 461 6500 (09:00 – 16:00) of op Twitter by @AmbLINSongtian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Daar bestaan ‘n moontlikheid dat meer mense reeds aan die virus dood is as wat die Sjinese regering bereid is om te erken. Erge epidemies word gekenmerk deur aanvanklike ontkenning. Veral met die jaarlikse fees wat nou begin en mense reeds groot onkostes aangegaan het, sal gepoog word om normaliteit voor te hou. Ons regering moet nie te gerus wees wees nie.

Meisie ·

Die Chinese toeriste stroom in na Suid Afrika en ons regering het geen maatreels in plek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.