Koronavirus: Beperkings landswyd in Italië toegepas

‘n Werker sproei ontsmettingsmiddel in
‘n museum in Italië (10 Maart 2020) (Foto: Alessandro Pone/LaPresse via AP)

Alle reisreëlings word in Italië beperk, openbare byeenkomste word verbied, flieks, teaters, gimnasiums en museums het hul deure gesluit en restaurante en kroeë is aangesê om teen 18:00 te sluit.

“Italië se toekoms is in ons hande. Kom ons doen elkeen ons deel ter wille van die gemeenskap,” het eerste minister Giuseppe Conte op Twitter gesê.

Italianers word landswyd slegs toegelaat om hul huise te verlaat vir ʼn paar redes, insluitend om werk toe te gaan, inkopies te gaan doen, die dokter te besoek en bejaardes of siek familielede te versorg.

Paniekerige inwoners het oornag op 24-uur-supermarkte toegesak, ondanks die feit dat die regering volhou dat dit nie nodig is nie, aangesien mense nog steeds toegelaat word om hul huise te verlaat om kos te gaan koop. Die algemene boodskap is egter om binnenshuis te bly en sosialisering te vermy.

Buiten China het Italië die grootste getal gevalle van die nuwe koronavirus (Covid-19), met nagenoeg 10 000 besmettings, insluitend 4 000 persone wat in die hospitaal opgeneem is en 463 sterftes.

Die uitbreking het ook tot onrus in tronke gelei, waar gevangenes besorg is oor besmetting en vies is dat hulle nie besoek mag word nie. Die dodetal weens die onrus in tronke het tot 11 gestyg, het die ministerie van justisie in ʼn verklaring gesê. Van die gevangenes in Rieti- en Modena-tronke het weens oordosisse gesterf ná hulle apteke in die tronk geplunder het.

Italië se ekonomie sal na verwagting swaar getref word deur die sluit van ondernemings, alhoewel inwoners steeds toegelaat word om werk toe te gaan en eksterne handeldryf nie opgeskort is nie.

Die landswye reisbeperkings, wat Dinsdag ingestel is, duur tot 3 April. Skole en universiteite is ook tot 3 April gesluit. Spoorweg, bus- en motorvervoer word steeds toegelaat, maar verskeie lugdienste en lande het verbindings van en na Italië opgeskort.

*Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.