Koronavirus-dodetal styg weer skerp

Foto: (Chinatopix Via AP)

Die dodetal van die nuwe koronavirus (COVID-19) het weer skerp gestyg nadat ʼn verdere 121 mense in China dood is.

Die dodetal staan op tussen 1 400 en 1 500 met meer as 5 000 nuwe gevalle wat aangemeld is. Daar is nou reeds meer as 63 000 bevestigde gevalle in China.

Japan het intussen ook nog ʼn geval aangemeld en die getal gevalle staan nou op 252. Dit sluit 218 gevalle in op ʼn passasierskip wat onder kwarantyn is in Yokohama.

Woensdag word beskou as die dodelikste dag nóg wat COVID-19 betref, met 242 mense wat in een enkele dag weens die virus omgekom het.

Meer as 560 gevalle is al buite China bevestig en drie sterftes in onderskeidelik die Filippyne, Hongkong en Japan.

Foto: (Chinatopix Via AP)

In Suid-Afrika het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) bevestig dat daar steeds geen gevalle in die land aangemeld is nie.

Volgens Nios is tot en met 13 Februarie ʼn totaal van 67 mense getoets wat moontlik van die simptome getoon het en is al die resultate negatief.

Nios het gesê hy toets monsters met dieselfde toetse as dié wat in ander internasionale openbare gesondheidslaboratoriums gebruik word. “Daar is ’n aantal laboratoriumkontroles wat by elke toets ingesluit word om die kwaliteit van die monster, die korrekte werking van die laboratoriumreagens en kontaminasie te kontroleer.”

Volgens Nios gaan hy ook voort om opleiding en ondersteuning aan gesondheidsorgwerkers in Suid-Afrika en die res van die kontinent te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.