Koronavirus: Eerste pasiënt sterf in Europa

Beijing-treinstasie (15 Februarie 2020) (Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein)

Die minister van gesondheid in Frankryk het Saterdag die eerste sterfte weens die koronavirus aangekondig.

ʼn 80-jarige Chinese toeris, wat volgens Franse owerhede eers by twee Franse hospitale weggewys is, het gesterf.

Minister Agnes Buzyn het gesê sy is Vrydagaand in kennis gestel van die pasiënt se afsterwe. Hy was in die hoësorgeenheid in Bichat-hospitaal in Parys nadat hy laat in Januarie positief getoets het vir die virus.

Sy dogter het ook positief getoets vir die virus en is ook in die hospitaal opgeneem. Buzyn het egter gesê dit gaan goed met haar en sy sal na verwagting binnekort Bichat verlaat. Die hospitaal is een van slegs ʼn paar hospitale wat spesiale isolasiekamers het.

Vier van die 11 bevestigde gevalle in Frankryk is reeds uit die hospitaal ontslaan, het ʼn dokter Vrydag bevestig, aldus Buzyn. Ses is steeds in die hospitaal.

Die pasiënt wat oorlede is, ʼn Chinese toeris van Hubei, het ernstige longontsteking gehad weens die COVID-19-virus.

Teen Sondag was 68 500 mense wêreldwyd met die virus besmet. Die dodetal van COVID-19 staan op 1 665.

Ongeveer 60 miljoen persone in China is steeds onder kwarantyn. Owerhede het noodhospitale gebou en beheermaatreëls in plek gestel om die verspreiding van die virus te beperk. Restaurante, flieks en ander ondernemings het landswyd hul deure gesluit. Sport- en kulturele geleenthede is gekanselleer om te verhoed dat skare persone bymekaarkom.

‘n Bus verlaat die hawe waar die Diamond Princess-passasierskip onder kwarantyn is (Foto: AP Photo/Jae C. Hong)

Die VSA het intussen gesê Amerikaners wat in kwarantyn is aan boord ʼn passasierskip sal Sondag na die VSA terugvlieg. Hulle sal terug in die VSA ook twee weke lank onder kwarantyn bly.

Ongeveer 380 Amerikaners is aan boord die Diamond Princess-passasierskip, wat tans in Yokohama is. Altesaam 285 persone van die skip het positief getoets vir die nuwe koronavirus. Die passasiers is al sedert 5 Februarie in kwarantyn op die skip.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.