Koronavirus: Nóg sterftes, maar geen noodtoestand

‘n Werknemer spuit Vrydag ontsmettingsmiddel op ‘n trein by die Suseo-treinstasie in Seoul, Suid-Korea. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

Minstens tien Chinese stede het reeds reisbeperkings ingestel te midde van die dodelike nuwe tipe koronavirus wat vandeesmaand in dié land kop uitgesteek het.

Minstens 26 mense is reeds dood met sowat 830 gevalle aangemeld. Dié dodetal styg daagliks.

Luidens inligting is twee van die sterftes nou buite die Hubei-provinsie aangemeld. Wuhan, waar die eerste geval aangemeld is, is in dié provinsie geleë. Ander stede in die provinsie soos Ezhou, Huanggang, Chibi, Qianjiang, Zhijiang, Jingmen en Xiantao het Wuhan se voorbeeld vandeesweek gevolg en openbare vervoer gekanselleer.

Inwoners word ook aangeraai om nie te reis nie te midde van miljoene Chinese en besoekers van reg oor die wêreld wat tans in China op reis is vir die Chinese Nuwejaar.

Wuhan wat normaalweg bedrywig is, het Donderdag soos ’n spookdorp gelyk. Die stad se strate was stil en winkelrakke leeg soos mense voorberei om voorlopig in isolasie te leef. Treinstasies, die lughawe en metro’s is ook gesluit.

China is nou besig om ʼn hospitaal in dié stad spesifiek vir die behandeling van pasiënte wat die virus onder lede het, op te rig. Die hospitaal sal ruimte vir 1 000 beddens hê en na verwagting op 3 Februarie gereed wees.

Die dra van maskers word in die stadium verplig. (Foto: Ahn Young-joon, AP)

Noodtoestand?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Donderdag daarteen besluit om die uitbreking tot ʼn wêreldwye noodtoestand te verklaar, deels weens die lae getal oorsese gevalle. Dié getal staan tans op 13.

“Dit kan nog ’n noodtoestand word,” het dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, die WGO se direkteur-generaal, gesê.

Die tweede geval van die virus in Suid-Korea is Vrydag aangemeld, het die Koreaanse sentrum vir siektebeheer gesê. Die eerste geval is verlede week in dié land aangemeld. Nog vier moontlike besmette mense word tans hier vir die virus getoets.

Die Suid-Koreaanse ministerie van buitelandse sake het Donderdag ʼn beroep op sy burgers gedoen om alle reisplanne na Oos-China, veral Wuhan, te kanselleer.

Daar is ook reeds gevalle van die virus in Japan, Thailand, Taiwan en die VSA aangemeld.

Die nuwe tipe koronavirus gaan gepaard met simptome soos erge koors en asemhalingsprobleme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom Koos ·

Steek daar enige waarheid in die storie dat die virus deur vlermuise oorgedra is aan mense nadat hulle die vlermuise gekook en daaraan gesmul het? Die Sjinese is mos bekend daarvoor dat hulle alles wat leef en beef as ‘n lekkerny beskou.

Peetjie ·

As China nie eers die virus onder beheer kan kry en hou nie, hoe gaan ons gesondheids departement dit doen, n.a.v. hulle opmerking dat SA reeds planne in plek het om dit te voorkom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.