Koronavirus: ‘Rooi waarskuwing’ geld nou vir Suid-Korea

Reddingswerkers dra Sondag maskers in Daegu, Suid-Korea. (Foto: Kim Hyun-tai/Yonhap via AP)

Die Japanse regering het om verskoning gevra nadat ’n vrou Woensdag toegelaat is om die Diamond Princess-skip te verlaat net om Saterdag positief te toets vir die koronavirus.

Pres. Moon Jae-in het Sondag ’n “rooi waarskuwing” vir Suid-Korea afgekondig nadat dié land sy vyfde sterfgeval en meer as 123 nuwe bevestigde gevalle van die dodelike koronavirus, oftewel Covid-19, aangemeld het.

Altesaam 75 van die 123 nuwe gevalle hou verband met die Shincheonji-kerk in die stad Daegu en ’n naburige hospitaal. Die Koreaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming het meer as 9 000 kerklede onder selfkwarantyn geplaas van wie duisende reeds getoets is vir die virus.

Suid-Korea het op 20 Januarie sy eerste nuwe geval aangemeld: ’n Chinese vrou uit Wuhan in die provinsie Hubei waar die virus in Desember uitgebreek het.

Die land se 31ste pasiënt, ’n waarskynlike “superverspreider”, het die Shincheonji-kerk se eredienste bygewoon.

Besoekers dra Sondag maskers by die Seoul-teken in Seoul, Suid-Korea. (Foto: Lee Jin-man, AP)

Dit volg nadat die Japanse regering om verskoning gevra het nadat ’n vrou Woensdag toegelaat is om die Diamond Princess-skip te verlaat net om Saterdag positief te toets vir die koronavirus.

Die regering in Suid-Korea spook nou om die uitbreking hok te slaan deur die stad Daegu en sy aangrensende distrik Cheongdo tot “spesiale sones” te verklaar. Die aantal nuwe bevestigde gevalle het nietemin Saterdag verdubbel.

Teen vanoggend was 6 039 mense in Suid-Korea onder kwarantyn. altesaam 18 pasiënte het tot dusver in dié land van die virus herstel.

Die dodetal in China het vanoggend tot 2 442 gestyg nadat die regering nog 97 sterftes aangemeld het. Almal behalwe een is in Hubei aangemeld.

Die nasionale gesondheidskommissie het ook nog 648 bevestigde gevalle aangemeld. Dit beteken dat altesaam 76 936 mense in China met die virus gediagnoseer is.

Die koronavirus het na meer as 25 lande versprei met paniek wat tans in Europa, die Midde-Ooste en Asië heers.

Bronne: The Guardian, ANA, The New York Times, SkyNews

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oujongvrou

Ek raak opk baie bang

madels

Die virus is glad nie veilig na iemand wat dit het, na twee weke ontslaan word nie. Mense wat wel gediagnoseer is moet vir ten minste 4 weke onder kwarantyn wees. Dit is bewys dat mense wat kom huistoe gaan weer opgeneem was in hospitaal. Daar is ook natuurlike “remedies” wat die virus die hok slaan maar niemand gee ag nie

Cherokee

Ons (gewese) buurvrou, oorspronklik vanaf Argentinië, het weke gelede na Suid-Korea verhuis, waar haar dogter woon.