Koronavirus: Tom Hanks en vrou uit hospitaal ontslaan

Tom Hanks en Rita Wilson (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP, File)

Die Amerikaanse akteur Tom Hanks en sy vrou Rita Wilson is in Australië uit ʼn hospitaal ontslaan net ʼn paar dae ná hulle positief getoets het vir die nuwe koronavirus (Covid-19).

Hul seun, Chet Hanks, het bevestig die egpaar is nou in self-isolasie. “Hulle voel baie beter. Dis ʼn groot verligting,” het hy in ʼn plasing op Instagram gesê.

Hy wens ook almal wat deur die virus geraak word, spoedige beterskap toe. “Ek bid vir julle, want baie mense ly op die oomblik,” het hy bygevoeg. Hy doen ʼn beroep op sy volgelinge om kalm te bly “en minder selfsugtig te wees”.

Die Hollywood-egpaar het verlede week Vrydag op Twitter bevestig hulle is in die hospitaal opgeneem. “Ons het Covid-19 en is in isolasie sodat ons nie iemand anders aansteek nie. Daar is diegene vir wie dit tot ʼn ernstige siekte lei. Ons vat dit een dag op ʼn slag,” het Hanks gesê. “Dankie aan almal Down Under wat ons so goed versorg. Daar is dinge wat ons almal kan doen om hier deur te kom deur die raad van kenners te volg en vir onsself te sorg.”

Die 63-jarige Oscar-wenner is in Australië vir die vooraf produksie van regisseur Baz Luhrmann se fliek oor Elvis Presley se lewe. Hanks sal die rol van die ster se bestuurder, kol. Tom Parker, vertolk.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

https://www.instagram.com/p/B90FuwUJNTh/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.