Koronavirus tot internasionale noodtoestand verklaar  

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO. Foto: (Jean-Christophe Bott/Keystone via AP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die nuwe koronavirus wat in China sy verskyning gemaak het, amptelik tot ʼn openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang verklaar.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het die aankondiging gedoen nadat die WGO se noodkomitee oor die aangeleentheid weer Donderdag vergader het.

Verteenwoordigers van China se gesondheidsowerhede het terugvoer aan die komitee gegee en die maatreëls wat ingestel is om die uitbreking te probeer beperk. Daar is nou reeds meer as 9 600 bevestigde gevalle in China en meer as 10 000 moontlike gevalle. Meer as ʼn 1 000 van die gevalle is ernstig en die dodetal het tot 213 gestyg.

Volgens die WGO is daar reeds 83 gevalle in 18 lande aangemeld. In slegs sewe van die gevalle het die persone nie na China gereis nie. Dit is in slegs drie lande buite China van mens tot mens oorgedra, aldus die WGO.

Die WGO het die Chinese regering se leierskap en politieke toewyding op die hoogste vlak verwelkom. Volgens die komitee is hulle toegewyd tot deursigtigheid en is pogings aangewend om die huidige uitbreking te ondersoek en te bekamp.

“China het die virus vinnig geïdentifiseer en sy bevindinge gedeel, sodat ander lande dit vinnig kon diagnoseer en hulself kon beskerm, wat gelei het tot die vinnige ontwikkeling van diagnostiese instrumente,” het Ghebreyesus gesê.

Die WGO is intussen ook van mening dat dit steeds moontlik is om die verspreiding van die virus te beperk mits ander lande streng maatreëls tref om die virus vroeg te identifiseer, te isoleer, te behandel en gevalle van kontak na te spoor.

Volgens Ghebreyesus is dit belangrik om daarop te let dat soos die situasie aanhou ontwikkel, die strategiese doelwitte en maatreëls om die verspreiding van die infeksie te voorkom en te verminder ook sal bly ontwikkel.

‘n Dokter behandel ‘n pasiënt in isolasie in ‘n hospitaal in Wuhan. Foto:
(Chinatopix via AP)

Die komitee het saamgestem dat die uitbraak nou aan die kriteria voldoen vir ʼn openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang.

Die komitee het egter benadruk dat die verklaring van ʼn gesondheidsnoodtoestand gesien moet word in die gees van ondersteuning en waardering vir China, sy mense, en die land se optrede rakende die uitbreking.

Die komitee is van mening dat ʼn wêreldwye gekoördineerde poging nodig is om die paraatheid in ander wêreldstreke, wat ekstra ondersteuning daarvoor benodig, te bevorder.

Die WGO het in die onlangse verlede al vyf keer ʼn openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale belang verklaar, naamlik die Ebola-uitbreking in die DRK in 2019, die Zika-virus in 2016, Ebola in Wes-Afrika en polio in 2014 en die H1N1-virus in 2009.

Suid-Afrika se minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, sal intussen Vrydagoggend die media toespreek oor die jongste verwikkelinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

ES ·

Hierdie sou nooit gebeur het as hulle sulke snaakse goed eet nie…. ek het ‘n artikel gelees wat beweer dat slange die hoofoorsaak of draer is van hierdie virus en as die Chinese hierdie vleis eet dan word hul siek daarvan…

Vriendelike Frikkie ·

Laat ons in Suid Afrika die wêreld wys hoe word dit gedoen; knoffel, beet en suurlemoene. Eenweek en jy hou nou ‘n nare herinnering oor. Dit het glo gewerk vir VIGS want jy hoor gladnie meer van dit in SA nie.

Stebastiaan ·

Mens moet net hoop dat die ANC regering in staat is om die virus gevalle te hanteer en nie sal mislik soos alles wat hulle aanpak.

Lisam ·

ek se nogsteeds dit in n mens gemaakte virus, net soos al die ander virusse…. population control..

wagnbietjie ·

Dit is vreeslik om te dink hoe derduisende mense se lewens direk geraak word hierdeur, letterlik miljoene Chinese se lewens ontwrig word wat nie uithuisig mag gaan nie en hul vryheid van beweging ingeperk word.
Nie om te praat van besighede wat deure gesluit het, maatskappye wat nie broodnodige voer vir hul diere en pluimvee kan aanry nie…wat ‘n nagmerrie.
Die Chinese darem goed ge-organiseerd en bou ‘n hospitaal in 6 dae, glo nie ons sal dit in ons land kan vermag nie.
Bid vir almal, dit is al wat ons nou kan doen.

Wonder net ·

Ek kan steeds nie insien hoe hulle net iemand se koors toets wat van die lughawe af kom nie. Party mense dra net die siekte en sal nie simptome he nie, ander wys eers tussen 12 en 14 dae simptome. Wat van daai mense wat al klaar met ander in omgang is? Het vandag met n plaaslike dojter gepraat en sy mening is as daai virus SA tref het ons strooi. Ons infrastrukture en “gehoorsaamheid” is nie sterk genoeg om dit te hanteer nie. In china mag almal vir u ure nie uit hulle huise gegaan het nie want hulle het die hele Wuhan vesproei. Wat gaan hier gebeur as jy vir hulle se hulle mag nie uit die huise uit gaan nie?

Hennie ·

Ek wens Lesufi wil soveel tyd aan opvoeding spandeer as wat hy aan vure doodslaan spandeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.