Koronavirus: WGO bekommerd oor gevalle met geen skakel met China

Mediese personeel dra ‘n pasiënt met die koronavirus op ‘n draagbaar na ‘n hospitaal hospital in Chuncheon, Suid-Korea.
(Foto: Lee Sang-hak/Yonhap via AP)

Die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het sy kommer uitgespreek oor die aantal bevestigde gevalle van die koronavirus, oftewel Covid-19, wat geen duidelike skakel met China of ander bevestigde gevalle het nie.

Volgens dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus word die geleentheidsgaping om die virus hok te slaan al kleiner.

Dit te midde van lande soos Suid-Korea, Italië, Iran en Amerika wat al meer bevestigde gevalle aanmeld. China meld egter by die dag minder gevalle of sterftes aan.

Besoekers loop naby die Gwanghwamun, die hoofhek van die Gyeongbok-paleis in Seoul, Suid-Korea. (Foto: Lee Jin-man)

Buiten China is meer as 1 200 gevalle, met agt sterftes, in 26 lande bevestig, sê die WGO.

Dit sluit twee sterftes in Suid-Korea in. Dié land het nou altesaam 346 bevestigde gevalle, die meeste van enige land buiten China en die gevalle wat op die Diamond Princess, wat in ’n hawe in Jokohama in Japan vasgemeer is, aangemeld is.

Italiaanse dokters het Vrydag bevestig ’n 78-jarige man is die eerste persoon in die land om weens die virus te sterf. Altesaam 17 bevestigde gevalle is hier aangemeld, met 34 gevalle wat in Amerika aangemeld is.

China het tot dus ver altesaam 76 288 gevalle aangemeld, waaronder 2 345 sterftes.

Mediese personeel neem Vrydag ‘n foto van pasiente wat herstel het in Wuhan, China. (Foto: Chinatopix via AP)

Hoewel die aantal gevalle buite China relatief klein in vergeleke met dié getalle is, is die patroon van infeksie egter kommerwekkend, sê Tedros. “Ons is bekommerd oor die aantal gevalle met geen duidelike epidemiologiese skakel soos ʼn reisgeskiedenis of kontak met ’n bevestigde geval nie.”

Volgens Tedros is sterftes en gevalle spesifiek in Iran kommerwekkend. Vier sterftes is vandeesweek hier aangemeld.

Geen gevalle is nog in Suid-Afrika aangemeld nie.

Bronne: BBC, CNBC, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Pooksy

Verskriklik