Kragonderbrekings nou ook Australiërs se voorland

Brisbane in Queensland, Australië. (Foto: Unsplash)

Australië is een van die wêreld se drie topprodusente van gas en steenkool. Tóg kan Australiërs nou kragonderbrekings te wagte wees weens ’n massiewe energiekrisis.

Kragvoorsieners is tans besig om energiekapasiteit aan die mark te onttrek as gevolg van ʼn pryslimiet van $300 per megawatt-uur (MWH) wat die Australiese energiemarkoperateur die naweek ingestel het.

Die Australiese energiemarkoperateur het Australiërs Dinsdag teen kragonderbrekings in Queensland en Nieu-Suid-Wallis gewaarsku. Dié twee state is die tuiste van meer as 13 miljoen mense.

Kennisgewings oor ’n moontlike tekort aan kragreserwes in Victoria, Suid-Australië en Tasmanië is ook uitgereik.

Anthony Albanese, die nuutverkose premier, blameer die vorige regering wat byna ʼn dekade lank aan bewind was, vir die energiekrisis.

“Die gevolge van die vorige regering se versuim om ʼn energiebeleid daar te stel word nou gevoel,” het Albanese vroeër vandag aan verslaggewers in Brisbane gesê.

Die Australiese energiemarkoperateur is intussen besig om inderhaas met kragopwekkers te onderhandel in ’n poging om meer krag op te wek. Die opsie om maatskappye te dwing om meer elektrisiteit op te wek, word ook ondersoek.

ʼn Kwart van die Australiese Ooskus se steenkoolkragstasies is tans buite werking weens instandhouding en onbeplande onderbrekings. Intussen het Rusland se inval van Oekraïne die vraag na Australiese gas laat toeneem. Dit beteken dat enige potensiële surplus wat die binnelandse tekort kan verlig eerder nou uitgevoer word.

Chris Bowen, die Australiese minister van energie, het Dinsdag gesê hy vertrou dat daar genoeg toevoer in die kragstelsel is om beurtkrag en stroomonderbrekings te vermy. Dít mits daar geen verdere kragonderbrekings is nie.

Bowen het egter Australiërs gemaan om hulle te staal vir ’n “moeilike winter” weens lae temperature, kragonderbrekings, geopolitieke druk en oorstromings.

Fossielbrandstowwe het verlede jaar na raming 71% van Australië se elektrisiteit verskaf, en steenkool 51%.

Energiekenner Richie Merzian van The Australia Institute sê nou dié balans moet verskuif om hierdie soort energiekrisisse te vermy.

“Solank as wat Australië afhanklik bly van gas en steenkool, sal Australiese verbruikers aan die genade van wêreldwye brandstofpryse oorgelaat word wat beïnvloed word deur gebeure buite ons beheer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Tienie ·

Nou verstaan ek nie mooi nie.

71% word opgewek met fossielbrandstowwe en 51% met steenkool….

Ek dagga dat steenkool ook fossielbrandstof is.

Hulle “eie mense” regeer en maak twak droog. Mooi man.

En nou trek hulle “sekere ander se trieks” deur die vorige regering te blameer.

Ek hoop APARTHEID word nou ook nie weer beskuldig nie.

Samuel ·

Hier word na aardgas verwys as fossielbrandstof. En wat het apartheid met Australië se energie krisis te doen?

Johan D ·

Ek glo hulle bedoel om te sê, “waarvan steenkool 51% uitmaak”!

Marius ·

Dit is juis omdat hulle sloer met die groen plan dat daar so groot afhanklikheid aan Rusland ens is. Hulle sal nie Rusland se wind of Son nodig hê nie maar neuk steeds met die ou metodes

JohanR ·

Waaneer begin SA Australie van krag voorsien? Voorsien al klaar amper die hele Afrika.

VaalDonkie ·

EK sit hier in die Kaap en dink aan Son en Windkrag terwyl ek by my venster uitkyk na die reen wat al van Sondag af val en die bome wie nie een se blaartjies roer nie. As die ligte nou afgaan, is my enigste opsie my Ryobi generator wat op petrol hardloop.

Martin ·

Eskom se “kundiges” moet asb vir Australië gaan help.

Esme ·

Die land van groot belonings en geleenthede is besig om te stuier. Miskien ‘n geleentheid vir Brian Dames om dinge daar te gaan regmaak.

H.A. ·

Skort die klomp sanksies teen Rusland dadelik op. Die wereld kry swaar – Putin het gewen.

Frank John ·

Daar is seker te veel Suid Afrikaaners in Australia. Hahaha

Conrad ·

Kan jy dink die Suid-Afrikaners wat Suid-Afrika en sy probleme gevlug het Australië toe, en dan volg SA se probleme hul oor die Indiese Oseaan. #beurtkrag

Lewe - is 'n lied ·

Soek hulp by SA (die kenners), hul weet mos wat hul doen…

Kobusnutz ·

Altyd gedink Australie is goed, maar nooit geweet hulle gebruik 122% se krag nie. (Jissie dis BAIE goed!) Dit is seker omdat hulle steenkool nie fossielbrandstof is nie! SA kan by hulle gaan kerse aansteek!

Marius ·

Uit die 71% is 51% steenkool, dit wil sê 20% is ander fossielbrandstof soos gas. Land met so baie spasie en son maar steeds behep met steenkool wat die lug besoedel. Mynbase het vorige regering in hul sak gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.