Krieket-legendes sterf kort na mekaar

Die Australiese krieketkaptein Steve Smith ontvang ‘n trofee van die krieketlegende Alan Davidson in 2016. Foto: William West/AFP)

Australië is in rou gedompel nadat twee voormalige Australiese kriekethelde, Alan Davidson en Ashley Mallett, Saterdag binne 24 uur van mekaar dood is.

Die draaibouler Mallett is op die ouderdom van 76 dood, ná ʼn lang stryd teen kanker. Die legendariese Davidson is op die ouderdom van 92 oorlede. Davidson, ʼn uitnemende bouler én kolwer, is in die verlede as “een van krieket se geliefdste en invloedrykste spelers” beskryf. “Hy was nie net een van die beste spelers wat Australië ooit verteenwoordig het nie, maar het ook ʼn positiewe bydrae as mentor en administrateur tot die spel gelewer,” het Richard Freudenstein, voorsitter van Krieket Australië, Saterdag gesê.

Sri Lanka se Malinga Bandara (L) gesels met voormalige Australiese draaibouler Ashley Mallett gedurende ‘n krieketoefening in 2006. Foto: David Hancock/AFP)

Davidson se eerste toets was in 1953 tydens die reeks om die As teen Engeland. Sedertdien het hy 44 toetse gespeel waartydens hy 186 paaltjies gevat en 1 328 lopies aangeteken het. Tussen 1979 en 1993 het hy jare lank as president van Krieket Nieu-Suid-Wallis gedien, asook as trustee van die Sydney-krieketveld.

Mallett word onthou as ʼn “nederige man” wat ook ʼn groot rol in Australiese krieket gespeel het. Hy het 38 toetse gespeel ná sy debuut teen Engeland in 1968 en 132 paaltjies gevat. Hy word veral onthou vir sy spel tydens ʼn toer na Indië in 1969-’70, waartydens hy ʼn allemintige 28 paaltjies gevat het. Na afloop van sy krieketloopbaan het hy talle jong krieketspelers afgerig. Hy is ook ʼn erkende skrywer en het veral biografieë oor befaamde Australiese krieketspelers gepubliseer.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Buck ·

… en ons krieketspelers buig n knie – ek sou eerder krieket groet. Sport is lankal nie meer wat dit was nie

Jack ·

Soos in die Romeinse tyd is sport n afgod in die wereld en mense word daarvoor onthou en vereer. Waar is die Romeine nou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.